Dié 10 stede om te besoek in 2018

Die reisgids Lonely Planet het sy top-bestemmings vir 2018 bekendgemaak.

Hier is die plekke wat jy móét besoek:

  1. Sevilla, Spanje

Seville (Foto: A volaaa)

Sevilla het oor die afgelope tien jaar verander van ʼn metropool met erge verkeersknope na ʼn stad waar fietse en treine nou orals te sien is en met ʼn gretigheid om sy kunsverlede te herleef. Sevilla is die hoofstad van die Andalusië-streek en is volgende jaar gasheer vir  31ste Europese rolprenttoekennings. Sevilla is ook te sien in die bekende TV-reeks Game of Thrones.

  1. Detroit, VSA

Detroit (Foto: Robert Thompson)

Detroit is ná jare se afskeep weer aan die vooruit beweeg. Kreatiewe jong mense het verwaarloosde geboue in distilleerders, fietswinkels en galerye omskep. Benewens dié ontwikkelings is daar nóg meer op pad. Drie nuwe parke word beplan terwyl innoverende hotelle gebou gaan word waar daar byvoorbeeld voorheen ʼn parkeerarea en ʼn ou pruikewinkel was.

  1. Canberra, Australië

Canberra (Foto: Jason Tong)

Opwindende nuwe boetiek-areas het onlangs in dié hoofstad van Australië begin opskiet, met heelwat hoogtepunte op ʼn lys kulturele aktiwiteite. Waar anders kan jy uitspan met ʼn beker vars gemaalde koffie voordat jy na kangaroes gaan kyk in een van dié stad se reservate?

  1. Hamburg, Duitsland

Elbphilharmonie, die konsertsaal op die Hamburgse hawe het dalk lank gevat om te voltooi, maar dié juweel van €790 miljoen was beslis die wag werd. Daar is nog verrassings wat op besoekers wag, insluitend rivierfrontstrandkroeë en van Europa se beste naglewe.

  1. Kaohsiung, Taiwan

ʼn Massiewe kunssentrum en ʼn 100 000 vierkante meter kultuur-en-musiek kompleks, afgerond met pragtige voetpaadjies en ʼn nagmark is besig om aan die stad se hawebuurt op te skiet. Dié ontluikende stad krioel met moontlikhede – besoek dit voordat die res van die wêreld daarvan hoor.

  1. Antwerpen, België

Antwerpen (Foto: Fuss)

Dié stad is belaai met ʼn historiese erfenis en het ʼn tradisie van wêreldklas kuns en ontwerp. Die inwoners van Antwerpen het egter nie ʼn verskoning nodig om hul kreatiwiteit te ontketen nie. Daarvan getuig die opvallende argitektoniese en kulturele kontraste.

  1. Matera, Italië

Matera is een van die oudste residensiële stede ter wêreld en spog met ʼn doolhof van grotwonings, kerke en kloosters wat van sover terug as 9 000 jaar gelede dateer. Dié stad spog nou met hotelle, restaurante en kroeë. Matera is as een van die kulturele hoofstede van Europa vir 2019 aangewys. Besoek die stad voordat die toeriste begin instroom!

  1. San Juan, Puerto Rico

San Juan (Foto: James Willamor)

Die ouer dele van die hoofstad van Puerto Rico is ʼn ommuurde enklawe met geplaveide strate, historiese kerke en boomryke pleine. Aan die ander kant van die muur is die moderne San Juan gedrapeer met muurskilderye en die talle galerye en museums. Talle restaurante is die afgelope paar jare ook oopgemaak. Die stad spog met ʼn besige naglewe, wat dansklubs, kroeë en casino’s insluit.

  1. Guanajuato, Mexiko

Die rykdom van die plaaslike silwermyne het gesorg vir ʼn visueel verstommende stadsbeeld wat bestaan uit versierde kerke, pragtige dorpspleine en kleurvolle huise in die vallei waarin die stad geleë is. Die stad verskyn in Pixar se nuwe animasierolprent Coco.

  1. Oslo, Noorweë

Oslo (Foto: dalbera)

Noorweë se geliefde koningspaar vier in 2018 hul 50ste huweliksherdenking. Groot feesviering kan verwag word sowel as talle kulturele en kulinêre ondervindings. Oslo se bekende operahuis vier in 2018 sy tiende verjaardag met ʼn reeks konserte en optredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.