Die 457-visumveranderinge in Australië – dít is wat jy moet weet

australiese-immigrasie-en-werkspermit

Dit sal nou moeiliker vir buitelanders wees om vir werk in Australië aansoek te doen. Foto: Interstaff.com

Malcom Turnbull, eerste minister van Australië, se regering het verlede week besluit om die 457-werksvisum – ’n Australiese visum wat vaardige beroepslui toelaat om tydelik in die land te werk – te skrap. Dit het opnuut die kollig op dié land se groot getal buitelandse werknemers geplaas.

Die visum word vervang met ʼn nuwe raamwerk wat minder poste en strenger voorvereistes vir keuring bevat vir buitelanders wat vir ʼn werksvisum aansoek doen.

Volgens Jock Collins, ʼn professor in sosiale ekonomie aan die Sydney Universiteit van Tegnologie in Australië, is dit eintlik nie ʼn verbasende skuif nie, aangesien die land elke jaar 700 000 tydelike immigrante en 200 000 permanente immigrante inneem. Daar is tans sowat 95 000 mense wat met ʼn 457-visum in Australië werk.

Collins het op die webwerf The Conversation aangevoer dat 1 500 dosente en 250 tutors met die 457-visum by universiteite in diens geneem word. Hy het gesê die visum kan ook ʼn moontlike impak op studente hê wat in Australië wil studeer.

Volgens die Australiese webwerf GoodFood.com het die verandering aan die 457-visum ook ʼn oproer in die land se restaurant- en grasvryheidsbedryf veroorsaak. Dié bedryf ervaar ʼn groot tekort in vaardighede wat luidens die webwerf net sal vererger weens die nuwe strenger maatreëls vir die aanstelling vir buitelanders in die bedryf.

Die webwerf Wêreldwyd berig dat hierdie visum veral gewild was onder Suid-Afrikaners omdat dit hulle in staat gestel het om met hul gesinne na Australië te verhuis en ná ʼn minimumtydperk aansoek te doen vir permanente verblyf.

Die 457-visum, of sogenaamde “Temporary Work (Skilled) visa (subclass 457)” was ʼn visum vir buitelandse burgers. Dit het ʼn geskoolde werker die toestemming verleen om na Australië te reis en vir vier jaar in hul genomineerde beroep vir hul goedgekeurde borg te werk. Werkers moes geborg word deur ʼn Australiese onderneming en die onderneming moes kon bewys dat hulle nie ʼn geskikte Australiese burger vir die pos kon vind nie.

Die visum is al ʼn geruime tyd lank die teiken van die land se federale regering omdat hulle voel die visum stel buitelanders in staat om ten koste van die plaaslike arbeidsmark aangestel te word. Die minister van immigrasie, Peter Dutton, het verlede jaar aangedui dat die regering die aantal nywerhede waarvoor 457-visum-aansoekers in aanmerking kan kom, gaan afskaal, maar die skielike en algehele afskaffing van die program het mense onkant gevang.

457-visum-verkorte-beroepslys

Van die werke waarvoor buitelanders nie meer sal kan aansoek doen na die afskaffing van die 457-visum in Australië nie. Foto: Rob Harris/Twitter.com

Die 457-visum sal heeltemal afgeskaf word en in sy plek sal daar twee nuwe visumprogramme wees: ʼn twee-jaar-visum en ʼn vier-jaar-visum, bekend as die tydelike vaardigheidstekortvisum. Die nuwe visum sal in Maart 2018 in werking tree. Daar was aanvanklik 650 werksgeleenthede vir die 457-visumhouers beskikbaar, maar onder die nuwe program sal dit met 200 verminder word.

Die nuwe visum-klasse sal strenger vereistes aan werksoekers stel, wat die volgende insluit:

  • ʼn Hoër vaardigheid in Engels as taal
  • Die deeglike nagaan van agtergrond en kriminele rekords
  • ’n Vereiste van minstens twee jaar se werkservaring
  • ʼn Verpligte arbeidsmark-toets

Volgens Turnbull sal hierdie nuwe visum verseker dat Australiese ondernemings net poste met buitelanders vul waar daar ʼn werklike vaardigheidstekort is.

Werkers met die nuwe visum sal ook nie so maklik vir permanente verblyf aansoek kan doen nie, het Dutton gesê. Hy het aangevoer die 457-visum het gewoonlik op ʼn aansoek vir permanente verblyf uitgeloop, maar dit sal veral nie meer onder die nuwe twee-jaar-visum kan gebeur nie.

Dit gaan werkgewers ook nou meer kos om ʼn buitelandse werksoeker te borg. Die fooi vir ʼn vier-jaar-visum word meer as verdubbel na 2 400 Australiese dollar en ʼn twee-jaar-visum sal 1 500 Australiese dollar beloop.

Alhoewel die verandering eers na ʼn jaar ingestel sal word, het die Australiese regering reeds verlede week aangekondig dat hulle ʼn “beduidende verkorte beroepslys” bekend sal stel wat sal beperk vir watter werke buitelanders mag aansoek doen met die 457-visum.

Die goeie nuus vir die 95 000 met ʼn 457-visum is dat hulle nie in onmiddellike gevaar vir deportasie verkeer nie. Turnbull het gesê dié werkers sal teen die verandering beskerm word en kan volgens die visum se voorwaardes aanhou werk.

Dit blyk egter dat 457-visumhouers probleme kan verwag as hulle in die land wil aanbly. Turnbull en Dutton het nie duidelikheid verskaf oor of die 457-visumhouers hul verblyf onder die 457-program sal kan verleng nie, en of hulle onder die nuwe tydelike visumprogram sal moet aansoek doen indien hul visum verstryk nie.

Dit is tans onduidelik wat die impak van die veranderinge op die arbeidsmark van Australië gaan wees. Josh Butler, mede-redakteur van Huffington Post Australië, het gesê baie van die 457-visumhouers is kokke, bestuurders, boere en arbeiders, maar die visumhouers werk ook in beroepsvelde van geneeskunde, tegnologie en opvoeding. “Ons weet nie hoeveel dié verandering hierdie beroepsvelde gaan raak nie en dit is ʼn ope vraag of Australië die landsburgers met die vaardighede het om die poste te vul.”

  • Lees meer oor die belangrike verandering rondom die nuwe tydelike werkvisum vir Australië, die strenger vaardigheidsvereistes en toegewings vir bepaalde streke in Australië op Wêreldwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Justice ·

Die maatreels is slegs moontlik indien jy nie aan 3e wereld state met vrot heinings te grens nie.

Riaan ·

Dit maak sin dat hulle beroepe soos “goat farmer” en “caravan park manager” van die lys afhaal, maar ander soos bv “actor” gaan hulle oor spyt kry.

Colleen ·

Dit IS baie groener. Jy moet dit net self sny, maar dit doen ek met liefde.

Kader ·

So, wat maak julle op ‘n SA nuusblad? Julle is mos nou Aussies, lees the Arsetralian.

Sonja ·

Miskien is dit juis omdat dit so groen is dat hulle dit nou wil beskerm vir hul eie mense.

Salome ·

Net jammer studente wat industrie geleenthede aangebied is word hierdeur geraak

Andre van der bank. ·

Ja Kader, waarom mag hulle nie? Waarom kyk jy n Amerikaanse movie? Jy is mos n Afrikaner, of hoe!

Nico K ·

Ek stem saam met Andre. As ‘n Afrikaner immigreer na ‘n ander land neem ek hom nie kwalik nie. Hy doen dit omdat hy glo dit die beste vir sy nageslag is. Watse werk gaan sy kinders in SA kry? Ek sou ook wou immigreer, maar het nie die “guts” nie.

Linda ·

Ek gun almal wst die SA wil verlaat die teg om dit te doen. My groot “issue” is net MOET NIE TERUG WIL KOM NIE! Jy het jou besluit geneem – ek en my kinders bly in SA en probeer “reg en beter maak”, wat stukkend em verkeerd is. So geniet jou groen gras met die grootste liefde -MOET NET NIE TERUGKOM NIE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.