Dié artritismedisyne werk vir Covid-19 – studie

(Foto: pixabay)

ʼn Studie wat in die American Journal of Medicine gepubliseer is, wys dat die gebruik van bepaalde medikasie vir artritis, ook suksesvol vir die behandeling van Covid-19 aangewend kan word.

Die studie is Dinsdag gepubliseer en het byna 11 000 Covid-19-pasiënte in 28 lande se reaksie op dié medikasie bestudeer. Die studie het bevind dat die gebruik van tocilizumab en sarilumab, bekend as interleukin (IL)-6-remmers, saam met kortikosteroïede die sterftesyfer en die behoefte aan ventilators by Covid-19-pasiënte, aansienlik laat afneem.

Die bevinding van die studie het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) genoop om die gebruik van dié medikasie vir Covid-19-pasiënte aan te beveel.

“Die navorsing lewer definitiewe bewyse ten gunste van die middel, nadat vorige studies gemengde resultate opgelewer het,” het Manu Shankar-Hari, professor aan King’s College in Londen en hoofnavorser, gesê.

Volgens die studie het die toediening van dié medikasie saam met kortikosteroïede pasiënte se risiko om dood te gaan, met sowat 17% verminder, in vergelyking met die gebruik van slegs kortikosteroïede. By pasiënte wat nie aan ventilators gekoppel was nie, is die risiko om aan ʼn ventilator gekoppel te word of dood te gaan met 21% verminder.

“Pasiënte wat ernstig siek is met Covid-19 se immuunstelsel oorreageer en veroorsaak ʼn reaksie genaamd sitokienstorm. Dit kan organe ernstig beskadig of tot die dood lei. Tocilizumab en sarilumab word gebruik vir die behandeling van rumatoïede artritis, ʼn outo-immuuntoestand, deur die uitwerking van IL-6 te inhibeer. IL-6 is ʼn soort proteïen wat ʼn sitokien genoem word, wat seine na die liggaam stuur om ʼn inflammatoriese reaksie te bewerkstellig.”

Vorige navorsing oor die doeltreffendheid van IL-6-remmers het egter gemengde resultate gelewer. Dit het navorsers aangespoor om die nuwe studie te koördineer, wat data van 27 ewekansige proewe wat in 28 lande uitgevoer is, te kombineer.

Dié studie bevat die inligting van 10 930 pasiënte, van wie 6 449 mense die IL-6-remmers ontvang het en 4 481 gewone of geen behandeling ontvang het nie.

Oor die algemeen het die resultate getoon dat die risiko vir dood binne 28 dae vir mense wat bogenoemde medikasie neem, 22% is. Dít teenoor die veronderstelde risiko van 25% onder diegene wat nie met IL-6-remmers behandel is nie.

Die uitkomste was nog beter nadat pasiënte kortikosteroïede ontvang het. Dié pasiënte se risiko om binne 28 dae te sterf was 21%.

“Dit beteken vir elke 100 pasiënte wat só behandel word, vier meer mense sal oorleef,” het Shankar-Hari gesê.

Pasiënte wat die medikasie gebruik, se kans om op ʼn ventilator geplaas te moet word, het ook van 33% tot 26% afgeneem.

Tocilizumab en sarilumab, wat toegedien word deur ʼn inspuiting, word tans aanbeveel vir gebruik saam met kortikosteroïede onder ernstige Covid-19-gevalle in Brittanje. Amerika beveel ook die gebruik van tocilizumab saam met kortikosteroïede aan.

Shankar-Hari het gesê hy hoop dat organisasies soos die WGO nou toegang tot medikasie soos dié kan verbeter, sodat dit wyd versprei kan word.

Deel van: Gesondheid, Wêreldnuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Ai tog. Hoeveel bewyse wil hulle nog hê dat daar GETOETSDE medisyne is wat kan gedond maak en dat mens nie die ON GETOETSDE inenting nodig het nie of inperkings en maskers nie. Maar nou ja, maak die wêreld paranoïes en boesem vrees in vir een of ander onverklaarbare rede. Ek het nou genoeg gehad. Steur my nou aan niks meer wat hulle sê nie.

piet

Ivermektien vererger asma en kan dus potensieel baie gevaarlik wees vir Covid-pasiente wat reeds asemhalingsprobleme ontwikkel het.

Leeuwyfie

Ek is so dankbaar dit word nou hoofstroom. Ek het gesien hoe mense met RA die gevaarlike simptome vryspring. Ek was juis bang dat hulle baie siek gaan word. Maar die teenoorgestelde het gebeur. Hulle medikasie onderdruk juis hul immuunstelsel. Dis sulke goeie nuus. Dankie MM. Nog ‘n tree vorentoe.