Dié Boeings se vlerke geknip ná onderdele uit die lug val

‘n Stuk van die enjin wat ‘n inwoner se huis met sentimeters gemis het. (Foto: Broomsfield-polisie/Twitter)

Deur AFP/Maroela-redaksie

Altesame 128 Boeing 777’s wat dieselfde enjin gebruik as die een wat op ʼn vlug vanaf Denver in die VSA uitmekaar geval het, is gehok, het ʼn woordvoerder van die Amerikaanse vliegtuigvervaardiger Maandag bevestig.

Dit het Saterdag vliegtuigonderdele oor groot gedeeltes van ʼn woonbuurt in dié stad in die Amerikaanse deelstaat Colorado gereën nadat die Pratt & Whitney-enjin aan die regterkant van die vliegtuig kort na opstyging aan die brand geraak het. Die vliegtuig was op pad na Hawaii.

In ʼn video van die voorval kan gesien word hoe die enjin brand en bewerig aan die vlerk hang. ʼn Doodse stilte heers oënskynlik in die vliegtuig met sy 231 passasiers en 10 bemanningslede aan boord terwyl dit terugdraai na die lughawe.

Die vlieëniers het veilig ʼn noodlanding gedoen, maar nie voor groot stukke van die vliegtuig in die buurt Broomfield in Denver gesaai is nie.

Die voorste enjindekplaat was heeltemal weg toe die vliegtuig weer geland het. ʼn Inwoner van die gebied het later ʼn enorme ronde stuk metaal in sy voortuin gevind. Dit het die huis met sentimeters misgeval.

Geen beserings aan boord van die vliegtuig óf op die grond is aangemeld nie.

“Ek kan eerlik sê ek het in ʼn stadium gedink ons gaan sterf – ons het kort na die ontploffing hoogte begin verloor,” het David Delucia aan The Denver Post gesê.

“Ek het my vrou se hand gegryp en gesê ‘dis klaar met ons’,” het hy vertel.

Die Broomfield-polisie het intussen ʼn beroep op inwoners gedoen om hom dadelik te kontak indien enige van die onderdele opgemerk word. Die polisie het mense egter gevra om dit net te doen indien hulle ʼn gróót stuk van die vliegtuig vind omdat hy reeds oorval is met oproepe van mense wat stukke van die vliegtuig gevind het.

Benewens United Airlines, gebruik Japan se ANA- en JAL-redery, asook Suid-Korea se Asiana Airlines ook die PW400-enjins.

Die Amerikaanse federale lugvaartowerheid het Sondag opdrag gegee dat bykomende inspeksies van Boeing 777-passasiersvlugte gedoen word. Die owerheid sou terselfdertyd ook met verteenwoordigers van Pratt & Whitney asook Boeing oor die voorval vergader.

Die voorval is nog ʼn terugslag vir Boeing wie se 737 MAX in Maart 2019 wêreldwyd gehok is nadat 346 mense in twee afsonderlike vliegongelukke dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karina ·

Dankie tog niemand is beseer nie, seker maar erg geskok oor die voorval, maar gelukkig niemand beseer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.