Dié enkellopendes kry reusebonus

Burgemeester Matt Florido. (Foto: Facebook)

ʼn Vrygesel-burgemeester van die Filippyne sou Dinsdag, op Valentynsdag, ʼn astronomiese bonus aan enkellopende personeel betaal.

Matt Florido wil hiermee sy dankbaarheid betoon vir die ekstra ure wat sy enkellopende werknemers werk en wys dat “iemand vir hulle lief is”.

Eensame personeellede van die General Luna-stadsraad in die Quezon-provinsie ontvang vandag drie keer hul normale dagloon indien hulle al langer as vyf jaar enkellopend is. Ander enkellopende werknemers ontvang op hul beurt dubbel hul normale dagloon óf ’n betaalde afdag.

“Ek weet waardeur hulle vandag gaan. Ek voel vir hulle,” sê Florido wat “sedert geboorte” enkellopend is.

“Niemand gaan vir hulle op Valentynsdag sjokolade of blomme gee nie… so ons het gedink hierdie soort aansporing kan hulle laat voel iemand gee vir hulle om en iemand is lief vir hulle.”

Burgemeester Matt Florido. (Foto: Facebook)

Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat Florido bonusbetalings aan enkellopendes in sy plaaslike regering uitdeel.

Altesaam 37 van Florido se 289 werknemers het vanjaar vir die vergoeding vir eensames gekwalifiseer nadat hulle ʼn streng keuringsproses geslaag het om hul status as alleenlopers te bevestig.

Personeel wat in aanmerking gekom het, is as deel van die keuringsproses gevra wanneer hulle laas in ʼn verhouding was, die redes waarom die verhouding opgebreek het, en hoekom hulle nog enkellopend is.

Die oudste persoon om vir die vergoeding te kwalifiseer is 64 jaar oud.

Florido sê die werknemers wat wel in ʼn verhouding is, het geen beswaar daarteen dat hul enkellopende kollegas vandag ekstra betaal word nie. “Miskien verstaan hulle waardeur die enkellopende mense gaan,” verduidelik dié oujongkêrel.

Die bonusbetalings sal Dinsdagaand tydens ʼn Valentynsdagpartytjie vir alle personeel van die General Luna-stadsraad aan enkellopende personeel oorhandig word.

Vanaand se aktiwiteite sal afspraakspeletjies insluit. “Wie weet, dalk vind sommige van die personeel eindelik liefde,” skerts Florido.

Happy valentine's day everyone! ❤❤❤ #MAYORwithaHEART

Posted by Mayor Matt Florido Withaheart on Monday, February 13, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Behoede SA as die ANC kaders en comrades van díe hoor!!!! Dan is die budget al in Feb geblaas

Sonblom ·

Wow! Wat ‘n voelgoed storie. Hierdie man het ‘n mooi hart wat sien wat sy werknemers doen en hulle waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.