Dié entstof het nou FDA se goedkeuring

Pfizer se entstof teen Covid-19 word onder die handelsnaam Comirnaty bemark. (Foto: Unsplash)

Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het Maandag Pfizer se entstof teen Covid-19 ten volle goedgekeur.

Die betrokke entstof is amptelik die eerste teen Covid-19 om dié owerheid se volle goedkeuring te ontvang en sal voortaan bemark word onder die handelsnaam Comirnaty as ʼn entstof teen Covid-19 vir persone van 12 jaar en ouer.

Janet Woodcock, waarnemende kommissaris van die FDA, het die owerheid se goedkeuring in ’n verklaring bestempel as ʼn “mylpaal in die stryd teen die Covid-19-pandemie”.

“Die publiek kan daarvan verseker wees dat hierdie entstof aan die hoë standaarde vir veiligheid, doeltreffendheid en vervaardigingskwaliteit wat die FDA van ʼn goedgekeurde produk vereis voldoen.

“Terwyl miljoene mense reeds Covid-19-entstowwe sonder komplikasies ontvang het, besef ons dat die FDA se goedkeuring van ʼn entstof vir sommige mense ʼn groter mate van vertroue kan gee,” het Woodcock gesê.

Hoewel Pfizer se entstof teen Covid-19 nou eers deur die FDA goedgekeur is, is etlike miljoene dosisse van die entstof reeds toegedien ingevolge ʼn noodmagtiging (EUA) wat op 11 Desember 2020 toegestaan ​​is.

Die FDA se besluit om die entstof goed te keur volg eindelik nadat bykomende data uit kliniese proewe bygewerk is. Die veiligheid en doeltreffendheid van Pfizer se entstof teen Covid-19 is onder meer by 40 000 pasiënte nagegaan.

Die Amerikaanse weermag het vroeër aangedui dat hy die Covid-19-entstof verpligtend gaan maak sodra dit ten volle deur die FDA goedgekeur is. Talle private ondernemings en universiteite in die VSA sal na verwagting nou die weermag se voorbeeld volg.

Pfizer se entstof teen Covid-19 is steeds met die nodige toestemming beskikbaar vir kinders tussen 12 en 15 jaar tydens noodgevalle, maar omdat dit nou ten volle goedgekeur is, kan dokters dit aan kinders jonger as 12 voorskryf as hulle glo dat dit voordelig sal wees.

ʼn Derde dosis van dié entstof is ook nou beskikbaar vir sekere pasiënte met immuunsiektes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.