Die gevolge van volgende week se verkiesing gaan groot wees

Amerika beleef moeilike tye en ek praat nou nie hier van die chaos wat deur Orkaan Sandy veroorsaak is nie. Nee ek praat eerder van die ekonomiese probleme van die grootste ekonomie in die wêreld.

Amerika se staatskuld staan tans op meer as 100% van BBP. Huispryse bly laag, werkloosheid bly hoog en die verarming van Amerikaners duur nou al vir byna ‘n dekade aanmekaar voort. Meer as 45 miljoen Amerikaners ontvang koshulp van die regering. Vir elke 10 sent wat die Amerikaanse regering spandeer moet hy 4 sent leen.

Wie ookal die presidentsverkiesing volgende week gaan wen, sal grootskaalse hervormings in plek moet stel ten einde Amerika van bankrotskap te red. Sou Obama volgende week verloor, sal dit juis wees omdat hy die afgelope vier jaar nie daarin kon slaag om die skuldsituasie te verbeter nie. Sou Obama volgende week wen sal dit wees omdat Amerikaners voel dat hy wel met hervormings begin het en dat hy meer tyd nodig het om dit te voltooi.

Daar is egter ‘n wesenlike verskil tussen hoe die twee kandidate die land se ekonomiese probleme gaan probeer oplos. Obama beplan ‘n verhoging op belasting vir ryker Amerikaners en slegs ‘n matige vermindering in spandering, hoofsaaklik op die weermag se huidige enorme begroting.

Romney beplan geen belastingverhoging nie, maar eerder effense belastingverlagings. Hy beplan egter ook om die belastingstelsel te hervorm en ‘n hele klomp belastingvrystellings te skrap wat wel sal beteken dat party Amerikaners meer belasting sal betaal. Romney beplan ook heelwat meer verlagings aan spandering, hoewel sy planne hieroor nog effens onduidelik is.

Die punt is egter dat die Amerikaanse regering se inkomste sal moet verhoog en sy spandering heelwat sal moet verminder om die begroting te laat klop. Die beste manier om dit regte kry is natuurlik om die ekonomie vinniger te laat groei. Hoë ekonomiese groei lei outomaties tot beter belastinginkomste. Die vraag is egter oor wat die Withuis kan doen om ekonomiese groei aan te wakker sonder om regeringspandering verder te verhoog. Romney beplan onder andere ‘n groter klem terug na federalisme waar die onderskeie state groter verantwoordelikheid gegee word vir dienste soos onderwys, infrastruktuur en mediese dienste.

Die volgende Amerikaanse president se primêre fokus in sy eerste paar maande sal dus ekonomiese hervorming wees. Presies hoe hierdie hervorming gaan lyk weet ons nog nie, maar dat dit drastiese en ongewilde stappe sal moet insluit, is ongetwyfeld so.

Klik hier om die vorige artikel te lees.
Klik hier om alle vorige artikels te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.