Dié Hollywoodsterre voel glo vere vir waterbeperkings

Argieffoto van Kim Kardashian. (Foto: Patrick T. FALLON / AFP)

Die realiteitstelevisiester Kim Kardashian en sommige van haar bekende bure, onder wie Sylvester Stallone, het nou waarskuwings ontvang nadat hulle herhaaldelik die droogtegeteisterde Kalifornië se waterbeperkings verontagsaam het.

Meer as 2 000 inwoners van die welvarende woonbuurte Calabasas en Hidden Hills noord van Los Angeles – bekend vir hul grasgroen grasperke en reuse‑swembaddens – verontagsaam al geruime tyd streng waterbeperkings wat tans ingestel is.

Die Los Angeles Times berig ’n huis en aangrensende erf in Hidden Hills, wat besit word deur ’n trust wat aan Kardashian verbind word, het hul watertoelae met ’n gesamentlike 878 000 liter vir die maand oorskry.

Dít terwyl Kardashian se suster Kourtney se eiendom in die nabygeleë Calabasas 378 000 liter meer water gebruik het as wat tans toegelaat word.

’n Verteenwoordiger vir die Kardashians het nie onmiddellik op AFP se versoek om kommentaar gereageer nie.

‘n Dorre Calabasas. (Foto: Mario Tama/Getty Images/AFP)

Stallone – veral bekend vir sy rol in die film Rocky – se Hidden Hills-eiendom van $18 miljoen het in Junie die stad se waterbeperkings met 230 000 liter (533%) oorskry nadat dit die vorige maand 195 000 liter oor die limiet was.

Argieffoto van Sylvester Stallone. (Foto: Robyn Beck / AFP)

Stallone se prokureur het aan die Times gesê sy berig “kan die situasie verkeerd uitbeeld en wanvoorstel” aangesien ’n eiendom sowat 500 volwasse bome onderhou. Hy sê sy kliënte het “proaktief” ’n drupbesproeiingstelsel geïnstalleer en sekere grasperke laat vrek.

Ander bekendes wat op die naam in die berig genoem word, sluit in die komediant Kevin Hart en die voormalige NBA-basketbalster Dwyane Wade.

Herhaalde oortreders word met honderde dollar beboet en sou hulle voortgaan daarmee om waterbeperkings te verontagsaam, word hul waterkrane letterlik vir hulle toegedraai.

Luidens die Times se berig het waterowerhede in die Las Virgenes‑ munisipale waterdistrik, wat Calabasas en Hidden Hills insluit, reeds vloeibeperkingstoestelle van metaal by ongeveer 20 eiendomme se hoofafsluitkleppe geïnstalleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

Laat hulle betaal ja. Hulle het almal meer as genoeg geld om self reservoirs te laat bou vir hulle watergebruike.

Manie ·

Het die VSA se silikoon fabriek dan opgedroog, hulle lyk gehawend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.