Dié honde weet wanneer jy Covid-19 het

Daniel Ortega saam met die snuffelhond, Sheriff, in Veracruz, Mexiko. (Foto: Victoria Razo/AFP)

Hul uiters sensitiewe reuksintuig word al lank gebruik om dwelms, wapens en liggame uit te snuffel. Nou word polisiehonde in El Salvador opgelei om Covid-19 by mense uit te snuffel.

Polisie in dié land gebruik kunsmatige aromas wat soortgelyk is aan die sweet van ʼn persoon wat met die koronavirus besmet is, om honde op te lei.

“Dit is nie so maklik nie, omdat die Covid-19-variante gereeld verander,” het Wilber Alarcon, hondehanteerder vir die Sentraal-Amerikaanse anti-narkotikapolisie, gesê.

“Maar die variante wat bekend is aan ons, is gesintetiseer en pseudo-aromas is daaruit onttrek om die honde mee op te lei.”

Alarcon het saam met van dié honde gegaan vir opleiding in Veracruz in Mexiko.

Hy verwag dat Covid-19-snuffelhonde binnekort lughawes, busterminale en grensposte in El Salvador sal patrolleer. “Die hond soek en merk die besmette persoon. ʼn Streng bioveiligheidsprotokol word dan geaktiveer wat die risiko verminder dat ʼn persoon, of ander na aan die besmette persoon, die virus kan opdoen.”

Honde se nuwe rol in die pandemie is geen verrassing vir hanteerders van die Veracruz-honde-eenheid nie. Een van dié honde kos ongeveer $24 000 (byna R360 000). Hul reuksintuie is so sterk dat hulle in 2016 ʼn liggaam wat drie meter onder die grond begrawe is, opgespoor het. ʼn Paar jaar later het hulle ʼn vrag dagga ontdek wat met ʼn dik laag olie en koffie bedek was.

“Dit is onfeilbare diere. Hulle is nooit verkeerd nie, dis mense wat verkeerd is,” het Daniel Valentin Ortega, afrigter by die Veracruz-honde-eenheid, gesê.

Navorsing dui daarop dat honde, met ʼn geskatte 300 miljoen reukreseptore, selfs die virus by asimptomatiese pasiënte kan opspoor.

In Mexiko se noordwestelike deelstaat, Sonora, het staats- en private organisasies reeds ses honde opgelei wat die koronavirus by mense kan uitsnuffel. ʼn Verdere 30 honde word tans opgelei om dieselfde te doen, het Juan Mancillas, hoof van Canines Against Covid, gesê.

Golden retrievers, Labradors en Duitse- en Belgiese herdershonde word oor die algemeen hiervoor gebruik.

Soortgelyke programme word elders in die streek van stapel gestuur. In Chili is ʼn groep honde van die opleidingskool in Santiago ontplooi. Daar word ook beplan om die inisiatief na ander dele van die land uit te brei.

In Miami is honde ontplooi om deur skares mense wat basketbal kyk te sif om Covid-19 op te spoor. Intussen het Tsjeggiese afrigters in Europa ʼn suksessyfer van 95% in die opsporing van die koronavirus in menslike reuk-monsters behaal.

In Brittanje hoop die liefdadigheidsorganisasie Medical Detection Dogs ook om honde se neuse in te span om ander menslike siektes soos kanker, Parkinsons en malaria te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Ag dis wonderlik. Nou kan mense wat se die honde is useless, ook sien wat honde liefhebbers al lankal sien. Ek het jare terug ‘n gekruisde Border Collie gehad wat elke keer as ek ‘n pyn in my linkerbors gekry het, die hele tyd aan spesifiek daardie kant aanhoudend geruik het. Toe ek dit vir die Dokter noem, toe se hy ek verbeel my. Kyk dan nou net na die berig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.