Die invloed van krisisse op die Amerikaanse verkiesing

Orkaan Sandy Foto: abcnews.go.com

Allerhande krisisse het ‘n manier om Amerikaanse verkiesings op interessante wyses te beïnvloed. Min mense onthou dat John McCain in 2008 teen Barack Obama voorgeloop het toe die bankkrisis in September skielik die hele dinamika van die verkiesing verander het. Barack Obama het uit ‘n bloedige voorverkiesingstryd met Hillary Clinton gekom. Daarteenoor het John McCain die gewildste goewerneur in die VSA en daarby ‘n aantreklike, jong vrou, Sarah Palin, as sy adjunk aangewys. Na die partye se konvensies het McCain voorgeloop en toe begin Amerika se banke soos dominos te val, Sarah Palin sukkel om van suksesvolle goewerneur in ‘n afgeleë staat die oorgang na nasionale politiek te maak en John McCain sukkel met enige sinvolle antwoorde op die finansiële krisis. Die res is geskiedenis.

Êrens vandag sal orkaan Sandy oor ‘n lengte van byna 1000km die Ooskus van die VSA tref. Om dit te vererger is ‘n Arktiese kouefront uit die noorde op pad na die Amerikaanse Ooskus. Waar die twee storms mekaar gaan ontmoet gaan groot verwoesting gesaai word. Winde van byna 150km per uur en reën van tot 200mm binne 24 uur in sommige gebiede beloof om grootskaalse verwoesting te saai. Miljoene Amerikaners aan die Ooskus sal waarskynlik vir dae sonder elektrisiteit wees. Stede soos Washington D.C., Philadelphia en New York sal tot stilstand kom met openbare vervoer wat gestaak gaan word. Lewensverlies is hoogs waarskynlik om nie eers te praat van verlies aan eiendom, infrastruktuur en ekonomiese aktiwiteit nie.

Pres. Barack Obama ontvang tyding oor orkaan Sandy in die Ovaalkantoor in die Wit Huis. Foto: www.whitehouse.gov

Die vraag op almal se lippe is wat die invloed van so ‘n groot storm slegs ‘n week voor die verkiesing op stryd tussen Romney en Obama kan wees. Gaan President Obama die regering se reaksie effektief bestuur en sy beeld as ‘n president wat diep omgee vir sy mense bevestig? Gaan Mitt Romney empatie toon en sy beeld verder versag wat juis vir hom tans broodnodig is?

Hoewel Obama tans nog ‘n effense voorsprong in die verkiesing het, is daar heelwat momentum aan Romney se kant. Romney loop tans in die meeste nasionale peilings voor, maar is nog ‘n kort kop agter Obama in belangrike state soos Ohio, New Hampshire en Colorado. Sal orkaan Sandy Romney se momentum tot ‘n einde bring? Sal die groot fokus op die storm en die fokus op Obama se hantering daarvan Romney se kanse om sy agenda in die laaste 8 dae voor die verkiesing aan kiesers bekend te stel, benadeel?

Oor die volgende paar dae sal hierdie vrae beantwoord word. Die laaste week van vanjaar se Amerikaanse verkiesingsveldtog gaan letterlik en figuurlik stormagtig wees!

Klik hier om die vorige artikel te lees.
Klik hier om alle vorige artikels te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.