Dié lande hanteer pandemie die beste, slegste

Soldate ontsmet die area om die gewilde Christus die Verlosser-standbeeld in Rio de Janeiro in Brasilië. (Foto: Silvia Izquierdo/File, AP)

’n Studie toon dat Brasilië tot dusver die swakste vaar wat sy hantering van die Covid-19-pandemie betref, terwyl Nieu-Seeland heel aan die voorpunt staan. Luidens die verslag het Suid-Afrika ook nie tot dusver te waffers gevaar in sy bestuur van die pandemie nie.

Die Australiese Lowy-instituut het Donderdag ’n verslag oor lande se hantering van die pandemie bekend gemaak nadat hy byna 100 lande op grond van ses kriteria beoordeel het. Die kriteria sluit in die aantal bevestigde gevalle van Covid-19, Covid-19-verwante sterftes en toetsvermoë.

“Hierdie aanwysers dui gesamentlik aan hoe goed of swak lande die pandemie bestuur het,” lui die verslag.

Afgesien van Nieu-Seeland, wat daarin kon slaag om die verspreiding van die koronavirus reeds vroeg te beperk met die sluiting van sy grense en goeie toetsvermoëns, het Viëtnam, Taiwan, Thailand, Ciprus, Rwanda, Ysland, Australië, Letland en Sri Lanka die toptien gehaal vir hul goeie hantering van die Covid-19-pandemie.

ʼn Standbeeld buite ʼn restaurant in Christchurch, Nieu-Seeland, is toegerus met ʼn gesigsmasker. (Foto: Mark Baker, AP)

Brasilië het op sy beurt die slegste gevaar, gevolg deur Mexiko, Colombia, Iran en die Verenigde State.

Luidens die verslag het Brasilië tot op hede meer as 218 000 Covid-19-sterftes aangemeld, die tweede hoogste sterftesyfer naas die Verenigde State.

Suid-Afrika het die 82ste posisie behaal wat sy hantering van die pandemie betref.

China, waar die koronavirus in Desember 2019 vir die eerste keer kop uitgesteek het, is egter nie by die Lowy-instituut se ranglys ingesluit nie weens ’n gebrek aan beskikbare data wat toetsing betref.

Volgens die instituut is daar geen duidelike wenner wanneer dit kom by watter politieke stelsel die pandemie die beste hanteer nie. “Sommige lande het die pandemie beter bestuur as ander, maar die meeste lande het mekaar slegs op verskillende vlakke van onderprestasie oortref,” word daar in die verslag bevind.

Dit blyk wel dat kleiner lande met ’n bevolking van minder as 10 miljoen mense tot ’n mate voordeel bo groter lande geniet. “Lande met kleiner bevolkings en bekwame instellings het oor die algemeen ’n vergelykende voordeel in die hantering van ’n wêreldwye krisis soos ’n pandemie,” lui die verslag.

Meer as 100 miljoen bevestigde gevalle van die koronavirus is nietemin oor die wêreld aangemeld, terwyl sowat 2,2 miljoen mense wêreldwyd weens die virus omgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vettiemaragartos

Stuur hierdie asseblief vir oom Squirrel en tannie Kopdoek!

PH

oom squirrel en tanne kopdoek sal dink dit is baie goed.

Andrew

So asof dit n sport is en of enige iemand die keuse het om te verhuis na n land van sy keuse waar die pandemie beter hanteer word. “Hey kyk, ons loop voor. Daar was nog net 20 000 mense in ons land dood. “

Marius

Hier word Jan van Riebeeck seker weer blameer vir die groot blaps van die regering ?

Alta Alleman

82 ste ?? Wow wat ‘n prestasie !!! (NIE!)