Dié mense is die meeste gesoek op Google

Meghan, die hertogin van Sussex. (Foto: Paul Edwards, AP)

Google het ʼn lys bekendgemaak van mense na wie daar die meeste in 2018 op dié internetsoekenjin gesoek is.

Meghan Markle se naam is die meeste kere deur mense gesoek op Google. Die hertogin van Sussex het in Oktober bekend gemaak sy is swanger nadat sy en prins Harry, die hertog van Sussex, in Mei vanjaar in die St. George-kapel in Windsor naby Londen getroud is. Markle was verlede jaar in die tweede plek op die lys, ná Matt Lauer.

 

Demi Lovato. Foto: (Jordan Strauss/Invision/AP, File)

Demi Lovato was vanjaar die naam wat die tweede meeste op Google gesoek is. Die Amerikaanse sangeres, bekend vir trefferliedjies soos “Sorry not Sorry” en “Heart Attack”, is in Julie na ʼn Los Angeles-hospitaal gehaas nadat sy glo ʼn oordosis dwelms geneem het.

Sylvester Stallone is die derde meeste gesoek op Google. Dit kom nadat daar is Februarie vanjaar gerugte versprei is dat die Rocky-akteur dood is. Daar was al talle soortgelyke vals gerugte oor Stallone. Die 72-jarige akteur is volgende jaar in Rambo V: Last Blood te sien.

Die Amerikaanse YouTube-ster Logan Paul is vierde op die lys. Paul het vroeg in 2018 ʼn opskudding veroorsaak nadat hy ʼn video van ʼn selfdoodslagoffers op sy YouTube-vlog geplaas het. Hy het die video na oorweldigende kritiek verwyder.

Khloé Kardashian. Foto: (Richard Shotwell/Invision/AP, File)

Khloé Kardashian is vyfde op die lys. Sy het in April vanjaar geboorte geskenk aan haar en die basketbalspeler Tristan Thompson se babadogtertjie. Daar is kort ná die dogtertjie se geboorte berig dat Thompson Kardashian by verskeie geleenthede verneuk het terwyl sy swanger was.

Sesde op die lys is Jair Bolsonaro wat in Oktober as Brasilië se president verkies is. Die omstrede politikus was gereeld in 2018 in die nuus.

Brett Kavanaugh is sewende op die lys. Hy is in Oktober in die Amerikaanse hooggeregshof aangestel. Sy aanstelling het gekom te midde van bewerings van seksuele aanranding.

Justin Bieber en sy vrou Hailey Baldwin. Foto: (Chris Young/The Canadian Press via AP)

Hailey Baldwin is agtste op die lys nadat sy vanjaar met die popster Justin Bieber getroud is. Sy is die dogter van die akteur Stephen Baldwin.

Negende op die lys is die porno-ster Stormy Daniels. Sy het beweer sy en Amerika se pres. Donald Trump het ʼn seksuele ondervinding gehad. Trump het dit ontken en ʼn hof het in Desember beslis Daniels moet $300 000 van Trump se regskostes betaal. Hy moes die regskostes aangaan nadat Daniels ʼn saak van naamskending teen hom aanhangig gemaak het.

Cardi B is in die tiende plek op die lys. Die Amerikaanse sanger, kletsrymer en televisiepersoonlikheid het in Julie vanjaar geboorte gegee aan haar en haar man, Offset, se dogtertjie. Sy en Offset is besig om te skei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.