Die raaisel van SA-man se vermiste diamant

Argieffoto

Argieffoto

Die raaisel van die vermiste diamant van $50 miljoen (ongeveer R530 miljoen) uit ʼn stoormaatskappy in Genève, Switserland, het Dinsdag verdiep toe die maatskappy die vermeende slagoffer as ʼn swendelaar beskryf het.

Die staatsaanklaer in Genève het Dinsdag bevestig dat hy die verdwyning van ʼn pienk diamant van 50.66 karaat ondersoek. Die diamant is glo deur die maatskappy, Malca-Amit, bewaar.

“Malca-Amit ontken enige betrokkenheid in die verdwyning van die diamant en bied hul volle samewerking aan die owerhede,” het Francisco Bautista, die maatskappy se bestuurder in Genève, aan AFP gesê. Die maatskappy blameer die Suid-Afrikaanse-Guinese diamanthandelaar, Sylla Moussa, wat aanvanklik die klag gelê het.

Moussa, hoof van Sylla Diamond International wat in Johannesburg gebaseer is, het aan AFP gesê hy het in September ʼn klag teen die maatskappy gelê nadat die diamant verdwyn het. “Hulle is ʼn spul diewe,” het Moussa in ʼn telefoniese onderhoud aan AFP gesê. Hy dring daarop aan dat hy nie Genève sal verlaat totdat hy sy vermiste diamant opgespoor het nie. “Ek wil net my diamant terughê.”

Moussa voer aan hy het in 2007 die groot, reghoekige diamant by Malca-Amit in bewaring geplaas totdat hy dit teen die beste moontlike prys kan verkoop. Toe hy egter in Augustus 2013 die diamant wou sien, het die maatskappy aan hom gesê dit is na ʼn Suid-Afrikaanse sakeman, Moti Abbas, oorgeplaas. Moussa voer aan Abbas is die meesterbrein agter die beweerde misdaad.

Hy sê die oordrag het plaasgevind ondanks ʼn ooreenkoms wat hy op 16 Augustus 2007 met die maatskappy onderteken het waarin hy verklaar dat hy die enigste eienaar van die edelgesteente is.

Malca-Amit voer egter aan dat Moussa die diamant in 2008 aan Abbas oorhandig het as skuldbetaling, en dat die diamant gevolglik nie meer onder sy naam bewaar is nie. “Moussa het besoek afgelê by die maatskappy en persoonlik, voor getuies, die diamant aan Abbas oorhandig,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê. Die maatskappy voeg by dat Abbas die steen daarna onder sy eie naam by die maatskappy gestoor het.

“Aangesien Moussa nie die party was wat die diamant in 2008 by die maatskappy gestoor het nie, is hy nie gemagtig om enige opdragte oor die diamant uit te reik nie,” het die maatskappy gesê.

Bautista, wat gesê het dat Malca-Amit nie meer die diamant het nie, het ook na berigte in die Suid-Afrikaanse media verwys wat aanvoer dat Moussa daarvan beskuldig is dat hy ʼn bank bedrieg het, en dat hy aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery in die gesig staar. Hy het spesifiek verwys na ʼn saak wat “eienaardig genoeg soortgelyk is aan die huidige saak”. Moussa het in die betrokke saak glo verskeie polisiebeamptes daarvan beskuldig dat hulle sy edelgesteentes gesteel het.

Moussa het hierop reageer en die maatskappy van laster beskuldig en dring daarop aan dat hy “niks het om weg te steek nie”. “Hulle word ondersoek, maar in plaas daarvan dat hulle vrae beantwoord, val hulle my aan,” het hy gesê. “Ek is nog nooit skuldig bevind aan enige misdaad nie.” Hy is vol vertroue dat die ondersoek in Genève hom reg sal bewys.

Die twee stem ook nie saam oor die prys nie. Moussa hou vol die diamant is onlangs gewaardeer vir ongeveer $75 miljoen, alhoewel hy “slegs” $50 miljoen eis as vergoeding vir die vermiste diamant.

Malca-Amit dring daarop aan dat die diamant slegs vir $15 miljoen (byna R159 miljoen) gewaardeer is toe dit by hulle gestoor is. Bautista het gesê “gekwalifiseerde diamantkenners” beraam die waarde “hoogstens” op $5 miljoen (nagenoeg R53 miljoen). -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.