Dié rykes betaal glo min taks

Elon Musk. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Van die rykste Amerikaners soos Jeff Bezos en Elon Musk het na bewering sommige jare nie ʼn sent aan inkomstebelasting betaal nie.

Dít luidens ʼn verslag wat Dinsdag deur die niewinsgewende, ondersoekende nuusdiens ProPublica in New York uitgereik is.

Dié skokverslag toon dat Bezos, stigter van Amazon, in 2007 en 2011 geen inkomstebelasting betaal het nie, terwyl Elon Musk, die uitvoerende hoof van Tesla, geen belasting op sy inkomste in 2018 betaal het nie.

ProPublica berig sommige van die rykste Amerikaners “betaal min inkomstebelasting vergeleke met hoeveel hulle verdien – soms selfs niks”. Die nuusdiens het nie bekend gemaak hoe hy die vertroulike belastinginligting bekom het nie.

Daar word ook in die verslag verwys na die voormalige burgemeester van New York, Michael Bloomberg, die aktivisbelegger-miljardêr Carl Icahn, en die filantroop en finansiële reus George Soros.

Jeff Bezos (Foto: Steve Jurvetson via Wikimedia Commons)

ProPublica se verslag is gegrond op belastingopgawes van uiters welgestelde mense oor meer as 15 jaar. Die Amerikaanse tesourie en ander owerhede, waaronder die FBI, probeer nou vasstel hoe die nuusdiens dié belastingopgawes in die hande gekry het.

Volgens ProPublica het die geïdentifiseerde miljardêrs niks onwettigs gedoen nie, maar bloot belasting ontduik op ʼn manier wat nie tot “gewone mense” se beskikking is nie.

Hulle het glo ook voordeel getrek uit die manier waarop belasbare inkomste in die Amerikaanse belastingkode gedefinieer word, omdat dit nie die groeiende waarde van bates soos voorraad en eiendom in ag neem nie, maar slegs belasting hef op die verkope van dié items.

George Soros. (Foto: AP Photo/Ronald Zak, File)

Die verslag is uitgereik enkele dae nadat die ministers van finansies van G7-lande ʼn wêreldwye minimum belastingkoers van minstens 15% op korporatiewe belasting goedgekeur het. Dit is juis gedoen in ʼn poging om te verseker dat ryk individue hul pond vleis betaal.

Lily Adams, woordvoerder van die Amerikaanse tesourie, het om die beurt aan AFP gesê die ongemagtigde openbaarmaking van vertroulike regeringsinligting is onwettig.

AFP het Bezos, Musk, Bloomberg, Icahn en Soros genader vir kommentaar en wag nog op terugvoer.

ʼn Woordvoerder vir Soros het wel aan ProPublica gesê dat Soros tussen 2016 en 2018 geen belasting geskuld het nie, omdat sy beleggings geld verloor het. Dié filantroop steun wel hoër belasting vir rykes, sê die woordvoerder.

Bloomberg en Icahn het by navraag gesê dat hulle al die belasting betaal het wat hulle skuld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Reynier ·

Soros is die grootste skelm op twee voete, seker verantwoordelik vir 90% van die wêreld se probleme

Jack ·

Ek sal nie sommer die berig van Propublica vir soetkoek opeet nie. Die tema dat rykes geen belasting betaal nie is so oud soos die berge. Dis veral ‘n gewilde tema vir die linkse sosialiste, wat ongelukkig nooit hulle eie leiers ondersoek nie. Hoeveel belasting betaal die super ryk politici byvoorbeeld in Suid-Afrika? Hoeveel is belasting betaal op geld wat met skelmstreke verkry is? In elk geval, as mens kyk hoe regerings met geld mors is dit elke personn se plig om sy belastingsake so te reel dat hy nie ‘n sent meer betaal as wat die wet hom verplig om te betaal nie.

Jacobus ·

………en nog nie eers dol winste in ag geneem uit pandemie.

Jaco ·

As Elon Musk nog in SA was, sou se besigheid weer gehamer en beboet gewees het vir nóg méér regstellende aksie en nóg méér BEE. Al betaal hy waar hy nou is min belasting gun ek hom dit. Ek wens ek kan uit dié anti-wit SA uit wegkom.

Hennie ·

Hierdie mense, of ons nou hou daarvan of nie, verskaf baie werksgeleenthede, verkoopsbelazrings, en maatskappy belastings op winste. Watter voordele kry hulle vir dit? So, ek is ten gunste van geen belasting vir die ryk mense. Buitendien, wat gebeur as jy ‘n ryke belas? Hy verhoog sy pryse op produkte en dienste en die middelklas betaal dit op die ou einde!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.