Dié spesies sterf dalk uit weens konflik

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: JALAA MAREY / AFP)

Natuurbewaarders waarsku dat burgerlike onrus en militêre bedrywighede ’n gevaar inhou vir meer as 200 bedreigde spesies, waaronder olifanttroppe en die uiters bedreigde Oosterse gorilla.

Die International Union for Conservation of Nature (IUCN) het Woensdag ’n verslag bekend gemaak waarin die noue wisselwerking tussen die omgewing en gewapende konflik onder die soeklig geplaas is.

Dit blyk duidelik uit dié verslag dat geweld en onrus aan die hand van die mens ’n vernietigende uitwerking op die natuur kan hê. Daar word ook beklemtoon dat volhoubare bestuur van natuurlike hulpbronne as ’n hulpmiddel beskou moet word om vrede te bewaar.

“Die agteruitgang van die natuur verhoog die waarskynlikheid van konflik, terwyl oorloë nie net lewens nie, maar ook die natuur verwoes,” sê Bruno Oberle, die direkteur-generaal van IUCN.

Daar is in die verslag bevind dat gewapende konflik veral voorkom in sommige van die wêreld se meer bio-uiteenlopende streke.

Volgens die IUCN word 219 bedreigde spesies deur “oorlog, burgerlike onrus en militêre oefeninge” bedreig. Dit behels die uitwissing van wild, die agteruitgang van ekosisteme en die ontwrigting van die bewaringspogings.

Hoewel dié bedreigde spesies maar ’n fraksie is van die meer as 30 000 dier- en plantspesies wat op IUCN se Rooi Lys verskyn, word daar wel in die verslag daarop gewys dat dit “ikoniese spesies” insluit.

Dit sluit in die uiters bedreigde Oosterse gorilla wat in die Demokratiese Republiek Kongo, Rwanda en Uganda – gebiede wat gebuk gaan onder konflik – voorkom. Die Oosterse gorilla word soms tydens teikenoefening en soms vir kos uitgewis.

Luidens die verslag is 90% van die groot soogdiere in die Akagara Nasionale Park in 1994 tydens die oorlog in Rwanda doodgemaak vir voedsel of handel. Duisende mense het destyds deur beskermde gebiede gevlug, diere doodgemaak vir kos, asook bome tydens hul vlugtog uit die weg geruim.

’n Verslag van die VN se kantoor vir dwelms en misdaad dui ook daarop dat die burgermag van Soedan in 2007 alleen verantwoordelik was vir die dood van ongeveer 2 000 olifante in die Sentraal-Afrikaanse Republiek.

Luidens dié verslag het die oorlog in Viëtnam die uitsterwing van die Javan-renoster “heel waarskynlik versnel” toe dié diere vir kos doodgemaak is.

“Dit ly geen twyfel dat konflik ’n groter risiko vir die uitsterwing van spesies inhou nie,” meen Thomas Brooks, die IUCN se hoofwetenskaplike.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Ja wel, hoeveel diere is daar om die groot stede? Landbou vernietig ook die natuur. As jy jou lig by die huis aansit verbrand jy steenkool wat n stukkie natuur êrens vernietig. Ons parke word ook elke dag meer “ontwikkel” ten koste van die natuur. Oral waar daar mense is word die natuur vernietig, geensins net in oorloë nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.