Die week in foto’s

Noord-Korea: Die staatsbeheerde Noord-Koreaanse nuusagentskap KCNA het Woensdag berig dié land het die “Malligyong-1”-verkenningsatelliet by sy Sohae-lanseringsterrein die ruimte ingestuur. Twee vorige pogings, een in Mei en toe weer in Augustus, was nie suksesvol nie as gevolg van tegniese probleme. (Foto: KCNA/AFP)

Thailand: Een van die likkewane wat in ʼn wildreservaat in die Nakhon Nayok-provinsie aangehou word. Die likkewane teister landbouers in die streek en word gesien as ʼn gevaar vir die omgewing. Thailand se departement van nasionale parke, natuurlewe en plantbewaring het reeds meer as 150 van dié likkewane gevang. (Foto: Thailand/DNP/AFP).

Indië: Toeriste besoek die Taj Mahal te midde van digte rookmis wat deur lugbesoedeling veroorsaak word. (Foto: Pawan Sharma/AFP)

Kenia: Erge oorstromings het die afgelope ruk op die oostelike platteland van dié Afrika-land voorgekom. Verskeie gemeenskappe is van die buitewêreld afgesny en duisende huise is vernietig in stormweer wat met die El Niño-weersverskynsel verbind word. Minstens 33 van die 47 provinsies in Kenia is geraak en meer as 70 mense het tot dusver omgekom. (Foto: Luis Tato/AFP)

Ecuador: ʼn Foto van die maan tydens die Fifa Wêreldbeker-sokkerwedstryd tussen Ecuador en Chili in die Rodrigo Paz Delgado-stadion in Quito. (Foto: Rodrigo Buendia/AFP)

Australië: Brandbestryders kyk hoe ʼn bosbrand noord van die stad Perth woed. (Foto: Handout/DFES/AFP)

Sri Lanka: Weerlig oor die Lotus-toring in Colombo. Die toring is die hoogste wolkekrabber in Sri Lanka en ʼn bekende toeriste-aantreklikheid. Die toring is 356 m hoog en daarby ook die hoogste toring in Suid-Asië, die 11de hoogste in Asië en die 19de hoogste toring ter wêreld. (Foto: Thilina Kaluthotage/NurPhoto/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.