Die week in foto’s

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef sommige van die week se nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Indonesië – ʼn Algehele sonsverduistering kon Donderdag in die suidelike Stille Oseaan-streek gesien word, tot groot vreugde van professionele sterrekundiges en amateur-kosmoloë. Dele van Australië, Indonesië en Oos-Timor is sowat ʼn minuut lank in dagligdonkerte gedompel. Dit het wetenskaplikes ook ʼn kans gegee om die son se ligkrans, wat gewoonlik weens die helder strale nie sigbaar is nie, te bestudeer. (Foto: Bay Ismoyo/AFP)

Duitsland – Dit is nie net in Suid-Afrika waar stakings die land lamlê nie. Lede van die Duitse vervoervakbond EVG staak terwyl hulle hoër lone eis om by stygende inflasie en hoër lewenskoste te probeer byhou. Die staking het spoorvervoer in Duitsland Vrydag wesenlik tot stilstand gedwing en “byna geen treine” het weens die gebrek aan mannekrag geloop nie. (Foto: Ina Fassbender/AFP)

Oekraïne – ʼn Oekraïense soldaat speel op sy trekklavier tydens ʼn blaaskans op die voorste linie naby Bakhmut in die Donetsk-streek. Die Russiese inval van Oekraïne woed voort. Pres. Wladimir Zelensky het ʼn beroep op Westerse bondgenote gedoen om meer vegvliegtuie en missiele te verskaf in die stryd om Russiese magte af te weer. (Foto: Anatolii Stepanov/AFP)

Frankryk – ʼn “Konsert van panne” is vandeesweek in die Franse hoofstad Parys gehou om beswaar te maak teen pres. Emmanuel Macron se deurvoer van wetgewing oor pensioenhervorming. Betogers eis Macron se kop, maar hy hou voet by stuk dat hy nie oor die ongewilde wetgewing gaan bedank nie. (Foto: Geoffrey van der Hasselt/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Surfer ·

Ja, maar hulle het by ons land geleer wat n staking is en hoe magtig dit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.