Die wêreld en Covid-19: So lyk gevalle, sterftes

Pres. Donald Trump praat Dinsdag oor die koronavirus in Washington. (Foto: Alex Brandon, AP)

Altesaam 874 635 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus, wat Covid-19 veroorsaak, is tot op hede in 203 lande asook op twee passasierskepe aangemeld. Van dié pasiënte het 43 431gesterf en 184 952 van die virus herstel.

Volgens die wêreldbarometer Worldometer se statistieke rondom die nuwe koronavirus het 646 252 mense in dié stadium Covid-19 (aktiewe gevalle) waarvan 612 633 (95%) matige simptome toon. Altesaam 33 619 (5%) van dié pasiënte verkeer tans in ’n ernstige of kritieke toestand.

Die VSA is in dié stadium steeds die episentrum van die virus met 188 647 bevestigde gevalle Covid-19. Nog ses mense het oornag in dié land gesterf en die aantal sterftes staan nou op 4 059.

Pres. Donald Trump het nog geen algehele landswye afsondering in dié land ingestel het nie, hoewel Amerikaners gemaan word om van die huis af te werk en hul afstand van mekaar te handhaaf. Deelstate met die meeste inwoners het nou begin om sakeondernemings, restaurante en skole te sluit om die verspreiding van Covid-19 te beperk.

n Werker spuit Dinsdag ontsmettingsmiddel in Duomo-plein in Milaan, Italië. (Foto: Luca Bruno, AP)

Trump het Amerikaners intussen ook gewaarsku dat die land in die volgende twee weke ’n skerp styging in sterftes kan beleef. Meer as 1 200 mense het reeds teen Maandag in die deelstaat New York weens Covid-19 omgekom. Inwoners van dié deelstaat word gemaan om tuis te bly. Wyoming is tans die enigste deelstaat om nie ʼn Covid-19-sterfte aan te meld nie.

Ander lande wat ook geweldig gebuk gaan onder Covid-19 sluit in Italië, Spanje, China en Duitsland.

Italië het tans die tweede meeste bevestigde gevalle van Covid-19 (105 792) gevolg deur Spanje met 102 136 gevalle. Dié land het China (81 554) nou ook verbygesteek. Italië het tot op hede 12 428 sterftes aangemeld. Dié land het die meeste sterftes ter wêreld weens Covid-19.

Altesaam 9 053 mense in Spanje het reeds weens die virus omgekom, terwyl China sedert Desember 3 312 sterftes aangemeld het. Duitsland het in dié stadium 72 914 bevestigde gevalle Covid-19 en 793 sterftes weens die virus aangemeld.

‘n Man word vir Covid-19 getoets in München, Duitsland. (Foto: Matthias Schrader, AP)

Dié lande het reeds ’n algehele landswye afsondering ingestel in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Talle ander lande is ook in afsondering waaronder Frankryk, Brittanje, Ierland, Denemarke, die Tsjeggiese Republiek, België, Pole, Rusland, Indië, Israel, Jordanië, Marokko, Koeweit, Australië en Nieu-Seeland.

Afrika-lande soos Suid-Afrika, Kenia, Nigerië, Zimbabwe en nou ook Botswana het reeds ’n afsondering ingestel om die verspreiding van Covid-19 onder landsburgers te beperk.

Die afsondering is in die meeste gevalle vir etlike weke ingestel hoewel die moontlikheid bestaan dat dit verleng kan word.

Wuhan in China, waar die virus in Desember uitgebreek het, se afsondering sal na verwagting volgende week uiteindelik beëindig word. Sowat 56 miljoen inwoners moes sowat vier maande lank in afsondering leef in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 hok te staan. Die stad het Maandag vir die eerste keer in maande geen nuwe gevalle Covid-19 aangemeld nie.

 

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gawie ·

Dis lankal nie meer die China-virus nie. Dit is nou die Trump-virus, want met sy gekskeerdery en ontkenning van die erns van die pandemie het hy versuim om die nodige stappe te neem om die verspreiding in die VSA die hok te slaan.

JC Venter ·

Nee Gawie, die Chinese virus het nie nou ewe skielik van kleur verander nie, dit bly Rooi en gevaarlik, geen niks van sterre en strepe nie. Terloops die virus se naam is Korona Covid. (Chinees = 冠状病毒病 电晕)

JC Venter ·

Terloops Gawie, ek kan nie agterkom of Korona ‘n Hy of ‘n Sy-naam is nie, besluit maar self.

JC Venter ·

Dankie, Maroela. Kan julle dalk hierdie statistiek soos op die kaart hier bo opgebreek in aantalle met inbegrepe van nuwe gevalle, sê vir die afgelope 12 weke of so? Dan kan mens ‘n prentjie kry of die situasie in wêreld darem verbeter of voortdurend verswak.

Uit die statistiek wat ek bekom het wys dit byvoorbeeld dat 626 nuwe gevalle is vanaf 18 Maart tot op gister se datum (13 dae) in China bevestig, die totaal daar is nou 81,554, sedert 29 Desember 2019, so dit blyk dat die geveg daar gewen is. Is hulle nou terug na normaal, of pas hulle nog regulasies toe?

JC Venter ·

Maroela, as ek nou hier bo praat van die afgelope 12 weke is dit aantalle PER week vir die afgelope 12 weke, progressief EN kumulatief.

Hoe nou? ·

Volgens Worldometer syfers het bevestigde gevalle weer gister verdubbel:
100000 05-Mar
200000 18-Mar ( 13 dae )
400000 24-Mar ( 6 dae)
800000 31-Mar ( 7 dae)

Vir die afgelope 2 weke verdubbel getalle elke 6-7 dae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.