Die wêreld in foto’s – 1 Maart 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Sylvain skaats Donderdag op sy sneeubord in ʼn sneeubedekte straat in Lausanne, Switserland. Aanhoudende sneeuval en snerpende weerstoestande as gevolg van ʼn skielike Siberiese koue het tot enkele sterftes reg oor Europa vanaf Brittanje tot die Balkan gelei. (Foto: Jean-Christophe Bott, AP)

ʼn Man neem Donderdag ʼn blaaskans gedurende die viering van Holi, die Fees van kleure, in Kolkata, Indië. (Foto: Tumpa Mondal, Xinhua)

Mense loop deur die deur van ʼn veiligheidskamer in die kelder van ʼn Duitse parlementêre gebou voor ʼn vergadering van die vertroulike parlementskontrole-komitee, in Berlyn, Duitsland. Duitse wetgewers het die regering gekritiseer omdat hulle nie ingelig is nie oor ʼn kuberaanval wat verlede jaar die regering se veilige rekenaarnetwerke geïnfiltreer het. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Werknemers van die Franse kleinhandelreus, die Carrefour-groep, betoog teen afleggings voor Carrefour se hoofkantoor in Massy, suid van Parys, Frankryk. Carrefour, Europa se grootste kleinhandelaar, het verlede maand aangekondig dat hy 2,8 miljard Euro oor die volgende vyf jaar in aanlyn inkopies gaan belê, wat tot 2 400 afleggings sal lei. (Foto: Thibault Camus, AP)

Pensioentrekkers betoog terwyl hulle die straat buite die Department van Finansies in Madrid, Spanje, afsper. Afgetredenes betoog reg oor dié land vir ʼn hoër pensioen en moedig owerhede aan om befondsing vir maatskaplike sekerheid te verseker, aangesien hulle ontevrede is met ʼn 0.25% pensioenverhoging. (Foto: Paul White, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.