Die wêreld in foto’s – 1 September 2017

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Paaie tussen Casaccia en Vicosoprano in Switserland is gesluit nadat ʼn donderstorm ʼn nuwe modderstorting in die suidooste van die land veroorsaak het. Storms het die afgelope ruk groot skade in die omgewing aangerig. Agt mense het ná ʼn onlangse modderstorting vermis geraak en die vermoede bestaan dat hulle dood is. (Foto: Giancarlo Cattaneo/Keystone, AP)

ʼn Brand het Vrydag by ʼn skoenfabriek in Karachi in Pakistan uitgebreek. Vyf mense, onder wie drie brandbestryders, het beserings opgedoen. (Foto: Masroor, Xinhua)

Pres. Doris Leuthard van Switserland praat tydens ʼn konferensie in Indië. Leuthard is tans met ʼn driedag-staatsbesoek in Indië. (Foto: Manish Swarup, AP)

ʼn Prokureur daag by die hooggeregshof in Nairobi in Kenia op. Raila Odinga, die land se veteraanopposisieleier, het pres. Uhuru Kenyatta se herverkiesing tot president in Augustus in dié hof betwis waar daar Vrydag uitspraak gelewer is. Die hof het die verkiesing ongeldig verklaar. (Foto: Ben Curtis, AP)

Treine in Bangladesj is oorvol weens die Moslem-vakansie, Eid al-Adha, wat voorlê. Talle mense is op pad huis toe vir dié vakansie. Die fees herdenk die verhaal van Abraham en sy bereidwilligheid om sy seun te offer as ʼn daad van gehoorsaamheid aan God. (Foto: A.M. Ahad)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.