Die wêreld in foto’s – 10 Julie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Feesgangers beskerm hulself teen ʼn kalf wat oor hulle gaan spring op die vierde dag van die San Fermin-fees in Pamplona, Noord-Spanje. Feesgangers van reg oor die wêreld stroom elke jaar na Pamplona waar hulle agt dae lank die geleentheid kry om aan die bulwedloop en stiergevegte deel te neem. (Foto: Alvaro Barrientos, AP)

Ondersteuners van die Bangsamoro-basiese wet (BBL) neem ʼn selfie terwyl hulle buite die lokaal wag waar ʼn konferensie Dinsdag in Manila in die Filippyne plaasvind. Die BBL is ʼn voorgestelde ooreenkoms tussen die Filippynse regering en Moslem-rebelle wat ʼn outonome streek in die suide van die Filippyne wil vestig. (Foto: Aaron Favila, AP)

ʼn Seun dryf Dinsdag op ʼn termiese kombers in ’n oorstroomde straat in Mumbai, Indië. Swaar reën het dié Indiese stad getref wat verskeie gebiede oorspoel het en mense ontredderd gelaat het. (Foto: Rafiq Maqbool, AP)

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, kyk toe terwyl sy en die Chinese eerste minister, Li Keqiang, ʼn voorlegging vir outonome bestuur bywoon by die Tempelhof-lughawe in Berlyn, Duitsland. (Foto: Fabrizio Bensch, AP)

Switserland se Silvan Dillier poseer vir foto’s voor die begin van die vierde fase van die Tour de France-fietswedren van 195 kilometer. Die fietsryers begin in La Baule en eindig in Sarzeau, Frankryk. (Foto: Peter Dejong, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.