Die wêreld in foto’s – 10 Mei 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Irakse polisiemanne wys die ink op hul vingers nadat hulle Donderdag in die parlementêre verkiesings in Bagdad, Irak, gestem het. Soldate en veiligheidsmagte het enkele dae voor die parlementêre verkiesing Saterdag reeds gestem. (Foto: Hadi Mizban, AP)

Prins Charles van Brittanje wuif ná ’n ontmoeting met die hoof van die Ortodokse Kerk, Aartsbiskop Ieronymos, in Athene. Die Prins van Wallis, opvolger van die Britse troon, en sy vrou, Camilla, Hertogin van Cornwall, is tans op ’n driedaagse besoek aan Griekeland waar Charles se voorvaders eens geheers het. (Foto: Petros Giannakouris, AP)

’n Israeliese soldaat loop in ’n ou militêre buitepos wat gebruik word sodat besoekers die Israelies beheerde Golan Hoogtes naby die grens van Sirië kan besigtig. Israel het bevestig dat hulle gedurende die nag talle Iranse teikens getref het in reaksie op ’n vuurpyl-aanval op Israeliese posisies in die Golan Hoogtes. Dit word bestempel as die grootste Israeliese aanval in Sirië sedert die oorlog van 1973. (Foto: Ariel Schalit, AP)

Angela Merkel, die Duitse kanselier, en die Franse president, Emmanuel Macron, staan Donderdag op die balkon van die stadsaal in Aken, Duitsland, tydens die Charlemagne-prysuitdeling. (Foto: Martin Meissner, AP)

Kyle Edmund van Brittanje juig nadat hy ’n punt teenoor België se David Goffin aangeteken het. Edmund stuur af op ’n oorwinning in dié wedstryd met die telling 6-3, 6-3 tydens die Madrid Ope-tennistoernooi in dié Spaanse stad. (Foto: Paul White, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.