Die wêreld in foto’s – 11 Julie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Man maak skoon rondom sy huis wat Woensdag in puin gelê is in Hiroshima in die suidwestelike deel van Japan. Inwoners het Woensdag modder met behulp van grawe verwyder om strate oop te stel sodat hulle kos en ander voorrade kan gaan kry nadat hierdie gebiede deur erge oorstromings en modderstortings getref is. (Foto: Ryosuke Ozawa, AP)

Soldate van die Franse Buitelandse Legioen hou vroeg Woensdag parade in die Champs Élysées in Parys tydens ʼn kleedrepetisie vir Bastilledag. (Foto: Jean-Francois Badias, AP)

Betogers bind hulself met kettings vas buite die ministerie van vervoer in Rome. Tientalle betogers het hulself aan die trappe vasgebind in protes teen die regering se streng immigrasiebeleid. (Foto: Alessandra Tarantino, AP)

ʼn Bosniese moslemvrou loop tussen die grafte by die herdenkingsentrum van Potocari naby Srebrenica, 150 km noordoos van Sarajevo in Bosnië. Duisende Bosniese moslems het by Srebrenica bymekaargekom op die 23ste herdenking van Europa se ergste bloedbad sedert die Tweede Wêreldoorlog vir die begrafnis van 35 slagoffers wat eers onlangs geïdentifiseer is. (Foto: Amel Emric, AP)

Theresa May, die Britse eerste minister, gesels met haar aankoms Woensdag by ʼn beraad vir staats- en regeringshoofde by die hoofkantoor van Navo in Brussel. Navo-leiers sal twee dae lank in Brussel vergader om Rusland, Irak en hul sending in Afghanistan te bespreek. (Foto: Francois Mori, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.