Die wêreld in foto’s – 12 Junie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Pres. Donald Trump van die VSA beantwoord vrae oor die beraad met die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, tydens ʼn mediakonferensie by die Capella-oord op die Sentosa-eiland in Singapoer. (Foto: Susan Walsh, AP)

Joodse setlaars saam in ʼn gebou terwyl die Israelse polisie besig is om mense in Netiv Avot op die Wesoewer uit hul huise te sit. Die polisie het Dinsdag begin met die ontruiming van dié onwettige buitepos in Gush Etzion. Israel se hooggeregshof het die opdrag vir die uitsetting gegee aangesien dié huise op private Palestynse grond gebou is. (Foto: Ariel Schalit, AP)

Pres. Wladimir Poetin van Rusland praat tydens die Staatsprys-toekenningsgeleenheid op die Dag van Rusland in die Kremlin-paleis in Moskou, Rusland. Sedert 1992 word dié dag jaarliks op 12 Junie gevier as die Russiese Federasie se nasionale vakansiedag. (Foto: Yuri Kadobnov, AP)

Supt. Heike Schultz van die Duitse polisie (links) en haar kollega praat met die media by die Internasionale Polisiesamewerkingsentrum in Moskou, Rusland. Die Russiese polisie sal ʼn sentrum vir internasionale skakeling tussen polisiemagte bedryf met verteenwoordigers van die 32 lande wat aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi deelneem. Die doel van dié sentrum is om potensiële moeilikheidmakers onder die toeriste wat Rusland tydens die toernooi besoek, te identifiseer en sodoende moontlike gevaarlike situasies te ontlont. (Foto: Alexander Zemlianichenko, AP)

ʼn Besoeker neem ʼn foto van die kunswerk Tteia 1, B (2000/2018) deur die Brasiliaanse kunstenaar Lygia Papae in die uitstalling Unlimited as deel van die internasionale Art Basel in Switserland. Unlimited is Art Basel se forum vir projekte wat die beperkinge van ʼn klassieke kunsuitstalling oorskry, insluitend beeldhouwerk, skilderye, videoprojeksies, grootskaalse installasies en performance-kuns. (Foto: Georgios Kefalas, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.