Die wêreld in foto’s – 13 Augustus 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Man versamel vullis wat deur sterk golwe in Manila in die Filippyne uitgespoel is. Die reënseisoen het oorstromings en sterk wind oor die grootste dele van dié hoofstad oor die naweek veroorsaak wat duisende gesinne gedwing het om tydelik in ontruimingsentrums te bly totdat weerstoestande opklaar. (Foto: Aaron Favila, AP)

ʼn Beseerde kind wat in die spervuur van die dodelike Saoedi-geleide koalisie-lugaanval beland het, lê in ʼn hospitaal in Saada, Jemen. Jemen se Sjiietiese rebelle steun die Verenigde Nasies se versoek vir ʼn ondersoek na dié aanval in die land se noorde. ʼn Bus met burgerlikes is getref onder wie baie skoolkinders was. Talle mense is in die aanval dood. (Foto: Hani Mohammed, AP)

ʼn Vrou stap verby ʼn elektroniese bord met buitelandse wisselkoerse terwyl sy Maandag ʼn winkel vir valutaruiling in Istanboel verlaat. Die sentrale bank van Turkye het Maandag ʼn reeks maatreëls aangekondig om kontant vir banke vry te stel, aangesien dié land hom tans in ʼn geldeenheidskrisis bevind wat veroorsaak word deur kommer oor pres. Recep Tayyip Erdogan se ekonomiese beleidstellings en ʼnn handels- en diplomatieke geskil met die VSA. (Foto: Lefteris Pitarakis, AP)

ʼn Groep immigrante gesels Maandag in ʼn tydelike kamp in Bihac, 450 km noordwes van Sarajevo. Verskeie mense het in die noordwestelike Bosniese dorpie Bihac vergader om die regering se reaksie op die ongekende instroming van migrante van die Midde-Ooste, Afrika en Asië, te bestry. (Foto: Amel Emric, AP)

ʼn Vrou staan Maandag voor foto’s van die slagoffers van die Oos-Duitse regime by die Muur-gedenkteken in Berlyn. (Foto: Ralf Hirschberger, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.