Die wêreld in foto’s – 13 September 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Emmanuel Macron, die Franse president, stap saam met Naruhito, die Japanse kroonprins, tydens sy besoek aan Versailles buite Parys, Frankryk. (Foto: Jack Chan, Xinhua)

Usain Bolt, die Jamaikaanse atleet, probeer Donderdag om te hardloop tydens ʼn swaartekragvrye vlug oor Frankryk naby Vatry in die ooste van die land. Bolt het gesê hy voel soos ʼn “kind in ʼn lekkergoedwinkel” nadat hy sowat vier minute lank gesweef het in byna gewiglose toestande. (Foto: Laurent Theillet, AP)

ʼn Veewagter lei Donderdag ʼn trop beeste deur die oggendmis na hul stalle in ʼn vallei naby Oberstdorf in Duitsland. In die herfs word kudde wat gedurende die somer in die berge gewei het na die vallei geneem waar hulle die winter sal deurbring. (Foto: Matthias Schrader)

Lewis Hamilton, Mercedes se Britse renjaer, beantwoord Donderdag ʼn vraag tydens ʼn mediakonferensie by die Marina Bay-renbaan in Singapoer voor die begin van die Formule Een-Grand Prix in dié stad. (Foto: Yong Teck Lim, AP)

’n Russiese erewag staan Donderdag gereed om deel te neem aan ʼn optog by die Tsugol-oefenveld, sowat 250 km suidoos van die stad Chita, tydens die Vostok 2018-maneuvers in Oos-Siberië, Rusland. Vostok 2018 het Dinsdag begin en behels die weeklange militêre oefening van byna 300 000 Russiese troepe, 1 000 Russiese vliegtuie en 36 000 tenks. (Foto: Sergei Grits, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.