Die wêreld in foto’s – 14 Augustus 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Skoolkinders hang Dinsdag linte met wense vir die hereniging van Noord- en Suid-Korea aan ’n draadheining by die Imjingak-paviljoen in Paju naby die grens tussen dié twee lande. Die twee lande het Maandag aangekondig dat die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, en die Suid-Koreaanse president, Moon Jae-in, volgende maand in Pyongyang sal vergader. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

Andy Chan, stigter van die Hongkongse nasionale party, praat Dinsdag tydens ʼn middagete by die klub vir buitelandse korrespondente in Hongkong. Die Chinese regering het dié klub versoek om Chan se optrede te kanselleer wat talle vrae laat ontstaan omtrent Beijing se uitbreiding van beperkings in dié voormalige Britse kolonie. (Foto: Paul Yeung, AP)

ʼn Student klap hande tydens ʼn onthaal ter viering van die 71ste onafhanklikheidsdag in Karatsji, Pakistan. Pakistani’s het hul onafhanklikheid van die Britse koloniale heerskappy in 1947 ontvang. (Foto: Shakil Adil, AP)

Mense loop Dinsdag tussen grafte in die gedenksentrum van Potocari naby Srebrenica, 150 km noordoos van Sarajevo in Bosnië. Die leier van die Serwiërs in Bosnië het die dood van sowat 8 000 Bosniese Moslems in Srebrenica tydens die oorlog in 1995 geminimaliseer en gevra vir die heropening van ʼn ondersoek na die ergste bloedbad in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog. (Foto: Darko Vojinovic, AP)

ʼn Besoeker neem Dinsdag ’n blaaskans op ’n warm dag by die Cheonggye-stroom in die middel van Seoel in Suid-Korea. Die Suid-Koreaanse meteorologiese administrasie het onlangs ʼn waarskuwing uitgereik oor ’n moontlike hittegolf in Seoel en ander stede. (Foto: Lee Jin-man, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.