Die wêreld in foto’s – 15 Augustus 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Skoolkinders dra blomme terwyl hulle eer betoon voor die reusebronsbeelde van die ontslape Noord-Koreaanse leiers Kim Il-soeng en sy seun Kim Jong-il tydens die herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog en bevryding van die Japannese koloniale regering in Pjongjang, Noord-Korea. (Foto: Ng Han Guan, AP)

Lede van die Nasionale Kadetkorps (NCC) tree Woensdag op tydens Indië se Onafhanklikheidsdagviering in Srinagar, Kasjmir. (Foto: Mukhtar Khan, AP)

ʼn Kind hou ʼn seekoei genaamd Mali dop wat by die Dusit-dieretuin in Bangkok, Thailand, slaap. Dié dieretuin, ʼn gewilde trekpleister vir Bangkok-gesinne, moet aan die einde van Augustus 2018 sy deure sluit en na ʼn nuwe ligging noord van die stad verhuis. Meer as 1 000 diere word intussen na ander dieretuine oor die hele land gestuur. (Foto: Gemunu Amarasinghe, AP)

Pelgrims dra Woensdag die houtikoon van die Swart Madonna tydens ʼn fees in die dorp Letnica in Kosovo. Duisende pelgrims kom in suidoos-Kosovo byeen in die klein Rooms-Katolieke gemeenskap waar Moeder Teresa glo haar roeping ontvang het om ʼn non te word. (Foto: Visar Kryeziu, AP)

Die bystandskip Aquarius vaar Woensdag Malta se hawe binne. Dié skip, wat deur die Europese hulpgroep SOS-Mediterranee in samewerking met Dokters Sonder Grense bedryf word, het 141 migrante aan boord wat verlede Vrydag in die Middellandse See uit Libië gered is. (Foto: Raphael Satter, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.