Die wêreld in foto’s – 15 Desember 2017

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

’n Polisie-vangwa met beskuldigdes daarin kom aan by die distrikshof in Yangon, Mianmar. ’n Hof in Mianmar het vier familielede tot 16 jaar tronkstraf met harde arbeid gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan die verknegting en misbruik van hul twee tienerjarige-diensmeisies. Die saak oor die behandeling van dié meisies het wyd opslae gemaak. (Foto: Thein Zaw, AP)

Die nuwe Stoos Bahn, na bewering die steilste kabelspoorlyn ter wêreld, in Stoos, Switserland, kort voor die openingsplegtigheid, ná vyf jaar se konstruksie. (Foto: Urs Flueeler, AP)

’n Deelnemer kerf aan ’n ysbeeld gedurende ’n internasionale ysbeeld-kompetisie vir universiteitstudente in Harbin, China. Dié geleentheid, aangebied deur die Harbin instituut van tegnologie, het altesaam 30 deelnemende spanne gelok. (Foto: Xinhua/Wang Jianwei, AP)

Narendra Modi, eerste minister van Indië, word deur lede van die kabinet met rose verwelkom op die openingsdag van die parlement se winter-sessies in Nieu-Delhi, dié land se hoofstad. (Foto: Manish Swarup, AP)

Palestynse Hamas-ondersteuners woon ’n byeenkoms by vir die 30ste herdenking van die bestaan van die Hamas-beweging in Nablus aan die Wesoewer. (Foto: Majdi Mohammed, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.