Die wêreld in foto’s – 15 Maart 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Paartjie hou Donderdag ʼn speel-speel kussinggeveg op ʼn dubbelbed op Parliament Hill in Londen tydens ʼn fotogeleentheid wat deur die Stigting vir Geestesgesondheid georganiseer is met die oog op Wêreld-slaapdag op 16 Maart. Dié dag poog om bewusmaking oor die belangrikheid van slaap vir goeie geestesgesondheid te skep. (Foto: Frank Augstein, AP)

ʼn Militêre wag kyk toe terwyl inheemse Filippynse mense wat as Lumades bekend staan, hul gebalde vuiste omhoog hou tydens ʼn saamtrek buite Camp Aguinaldo se militêre hoofkantoor in Manila, Filippyne. Dié groep beweer die weermag het menseregte-oortredings teen dié inheemse groep in die Mindanao-provinsie in suidelike Filippyne gepleeg. (Foto: Aaron Favila, AP)

ʼn Weerkaatsing van die Nasionale Museum van China is sigbaar in ʼn venster van die hoofingang van die Groot Saal van die Mense wat bewaak word deur sekuriteitspersoneel tydens Donderdag se afsluiting van China se nasionale volkskongres (NPC) in Beijing. (Foto: Aijaz Rahi, AP)

Hongaarse soldate marsjeer en hou die Hongaarse nasionale vlag omhoog buite die parlementsgebou in Boedapest, Hongarye, tydens ʼn seremonie wat dié land se nasionale vakansiedag vier. Dié dag is die 170ste herdenking van die uitbreek van die 1848-revolusie en die onafhanklikheidsoorlog teen die Habsburgs. Die banier op die verhoog lees “15 Maart – die vaderland bo alles”. (Foto: Darko Vojinovic, AP)

Bangladesjiese joernaliste hou Donderdag ʼn minuut van stilte in Dhaka, Bangladesj, om hulde te bring aan die slagoffers van Maandag se vliegtuigongeluk in Katmandoe, Nepal. Bangladesj is in rou gedompel oor diegene wat in dié ongeluk van US-Bangla Airlines gesterf het. Die vliegtuig het in Dhaka opgestyg en in Katmandoe neergestort. Spesiale gebede word Vrydag by alle moskees in die land beplan. (Foto: A.M. Ahad, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.