Die wêreld in foto’s – 16 Maart 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Besoeker neem ʼn foto van kersiebloeisels wat in Ueno Park, Tokio, begin blom. Daar word verwag dat duisende mense dié park sal besoek om die blomme te besigtig. (Foto: Eugene Hoshiko)

Lidziya Hrafeyeva van Belarus neem deel aan die vroue-tweekamp se 12,5 km-byeenkoms tydens die 2018 Winter- Paralimpiese Spele by die Alpensia Biathlon-sentrum in Pyeongchang, Suid-Korea. (Foto: Ng Han Guan, AP)

ʼn Britse vlag wapper Vrydag voor die Britse ambassade in Moskou, Rusland, met die Sowjet-ster van die Oekraïne-hotel in die agtergrond te sien. Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov, het Brittanje Vrydag daarvan beskuldig dat hy internasionale reg oortree het, en kritiseer Brittanje se minister van verdediging oor wat hy as “onopgevoede” kommentaar oor Rusland bestempel. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Oorlewendes van die My Lai-slagting lê blomme neer tydens ʼn seremonie om die slagoffers van die slagting in My Lai, Viëtnam, te onthou. Meer as ʼn duisend mense woon dié geleentheid by ter ere van die 50ste herdenking van die My Lai-slagting waarin 504 ongewapende landsburgers, meestal vroue, kinders en bejaardes, vermoor is. (Foto: Hau Dinh, AP)

Bangladesjiese Moslems bid Vrydag vir die slagoffers van Maandag se vliegtuigongeluk in Katmandoe by die Nasionale Moskee in Dhaka, Bangladesj. Sheikh Hasina, dié land se eerste minister, het beveel dat nasionale vlae by alle plaaslike regeringsgeboue en ambassades reg oor die wêreld halfmas moet hang, terwyl spesiale gebede Vrydag by moskees dwarsoor die land gehou is. (Foto: A.M. Ahad)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.