Die wêreld in foto’s – 16 Mei 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Indiese vroue kyk toe terwyl reddingswerkers hulp verleen nadat ʼn brug oor ʼn snelweg wat in Varanasi, Indië, in aanbou was, Woensdag ineengestort het. Owerhede het bevestig dat talle mense dood is toe ʼn groot betonblok op die besige pad neergestort het. (Foto: Rajesh Kumar Singh, AP)

Kardinaal George Pell verlaat ʼn hofsaal in Melbourne, Australië. ’n Werknemer van die Australiese staatshof is Woensdag afgedank nadat hy deur middel van ʼn rekenaarstelsel vertroulike inligting oor Pell se hofsaak bekom het. (Foto: Joe Castro, AP)

Betogers verbrand Israelse en Amerikaanse vlae tydens ʼn betoging in die voormalige Amerikaanse ambassade in Tehran, Iran, uit woede oor die dood van bykans 60 Palestyne in Gasa. Staatsmedia het berig dat pres. Hassan Rouhani van Iran die dood van die Palestyne deur Israeliese magte veroordeel het deur te sê “Palestyne veg vir hul vaderland”. (Foto: Ebrahim Noroozi)

Wa Lone, ʼn Reuters-joernalis, hou sy duime omhoog terwyl hy met joernaliste buite die hof in Yangon, Mianmar, gesels. (Foto: Thein Zaw, AP)

Pensioenarisse skud Woensdag aan die luike van die hoofingang van die arbeidsministerie tydens ʼn betoging in die hart van Athene. Dit volg nadat die regering herhaaldelik aan pensioene gesny het as deel van dié land se drie internasionale finansiële reddingsboeie. Nog besnoeiings word vir 2019 beplan. (Foto: Petros Giannakouris, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.