Die wêreld in foto’s – 17 September 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Die Spaanse kletsrymer Jose Miguel Arenas Beltran, ook bekend as Valtonyc, verlaat Maandag die hofgebou in Gent, België, nadat ʼn Belgiese hof bevind het dat Valtonyc nie na Spanje moet terugkeer nie. Valtonyc word in dié land daarvan beskuldig dat hy lirieke geskryf het wat terreurgroepe se lof besing en die koninklike familie beledig. (Foto: Virginia Mayo, AP)

ʼn Werker saag Maandag bome op wat gedurende Tifoon Mangkhut in Hongkong geval het. Dinge keer weer stelselmatig terug na normaal ná dié tifoon die land getref het. Spoor-, lugredery- en veerdienste is reeds hervat. (Foto: Vincent Yu, AP)

ʼn Foto van die reuselandskapskildery getiteld “Message From Future” deur die Franse kunstenaar Saype, kan in die park “La Perle du Lac” in Genève, Switserland, gesien word. Dié kunswerk, wat 5000 vierkante meter dek, is met bioafbreekbare verf, wat gemaak is van natuurlike pigmente, vervaardig. Saype noem dié dogtertjie die “Toekoms” as ʼn simbool van die geslagte van die toekoms. Die klein origami-bote wat die dogtertjie in die meer van Genève laat val, het ten doel om ʼn boodskap van hoop aan die wêreld te stuur. (Foto: Valentin Flauraud, AP)

ʼn Drie weke oue renosterkalf loop Maandag in die Ramat Gan-park naby Tel Aviv, Israel. Volgens Sagit Horowitz, woordvoerder van die park, is dit die 30ste geboorte van ʼn renoster in dié park. (Foto: Ariel Schalit, AP)

ʼn Lid van die Switserse weermag werk Maandag aan die enjin van die VSA-WOII-oorlogsvliegtuigwrak op die Gauli-gletser in die Bernese Alpe, Switserland. Die C-53 Skytrooper Dakota-vliegtuig het in 1946 op dié plek neergestort. (Foto: Peter Klaunzer, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.