Die wêreld in foto’s – 19 Februarie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

’n Toeskouer wag op die begin van die kwarteindronde van die spoedskaatswedren vir vroue op die Gangneung-ovaal tydens die 2018 Olimpiese Winterspele in Suid-Korea. (Foto: Petr David Josek, AP)

’n Boer versorg die bloeisels aan ’n kersieboom by ’n spesiale vrugte-demonstrasiepark in die vroeë lente in die Shanting-streek van Zaozhuang in China se Shandong-provinsie. (Foto: Liu Mingxiang, Xinhua)

Skoolkinders kyk Maandag toe hoe Berg Sinabung uitbars in die Tiga Pancur-dorpie in Karo, Noord-Sumatra, Indonesië. Die Sinabung-vulkaan het as so hoog as sowat vyf kilometer die lug ingeblaas. (Foto: Lana, Xinhua)

Pres. Andrej Kiska van Slowakye en pres. Alexander van der Bellen van Oostenryk, links, stap Maandag na hul vergadering by die Hofburgs-paleis in Wene, Oostenryk. Die portret is dié van die voormalige Oostenrykse keiserin Maria Theresa. (Foto: Ronald Zak, AP)

Paul Birmingham, ’n vriend van die ouers van Gina Montaldo, een van die slagoffers in die jongste Amerikaanse skietery, skryf op ’n gedenkkruis buite die Marjory Stoneman Douglas- hoërskool waar 17 studente en personeellede in ’n massaskietery gesterf het. Nikolas Cruz, ’n voormalige student aan dié skool, staan tereg op 17 aanklagte van moord nadat hy vermoedelik wild en wakker op mense begin losbrand het. (Foto: Gerald Herbert, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.