Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Roubeklaers by die begrafnis van Anjuma Beghum (18) wat dood is in die noordoostelike staat Assam in Indië toe inwoners van haar dorpie, Kuthori, en die polisie slaags geraak het nadat die owerheid 300 huise laat sloop het. Die huise is gesloop in ʼn poging om renosterstropery in die park stop te sit. Twee mense is dood en verskeie beseer. Foto: Anupam Nath / AP

ʼn Vlinder deel in die oes in die wingerd op die Thueringer Weingut Bad Sulza naby Sonnendorf in Duitsland. Die oes in die Saale-Unstrut-gebied, waar wyn al meer as 800 jaar gemaak word, het pas begin. Foto: Jens Meyer / AP

Pous Franciskus het Dinsdag ʼn dag van gebed om vrede saam met verteenwoordigers van verskeie godsdienste in Assisi in Italië deurgebring. Assisi is die tuisdorp van die heilige Franciskus wat onder meer verdraagsaamheid en bedagsaamheid verkondig het. Foto: L’Osservatore Romano / AP