Die wêreld in foto’s – 21 Junie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Pous Franciskus word verwelkom deur Alain Berset, die Switserse president, by sy aankoms Donderdag in Genève, Switserland. Die pous is in Switserland vir ’n eendagbesoek om sy siening te bevorder dat Christene, ongeag hul teologiese verskille, kragte kan saamsnoer om te werk vir vrede en geregtigheid in die wêreld. (Foto: Peter Klaunzer, AP)

Kinders speel Donderdag op ʼn installasie met ʼn projeksie van ʼn waterval en blomme by die Mori- digitale kunsmuseum in Tokio. Die Mori-gebou, ʼn Japanse eiendomsmaatskappy en ʼn digitale kunstekollektief het koppe bymekaar gesit om dié digitale kunsmuseum in Tokio te skep. Die Mori vertoon 50 kunswerke binne ʼn ruimte van 10 000 vierkante meter. Die uitstalling het Donderdag amptelik geopen. (Foto: Shuji Kajiyama, AP)

Tongki, die 23-jarige ysbeer, hap ʼn blok ys met vis daarin by die Everland-pretpark in Yongin, Suid-Korea. Tongki smul aan dié bevrore lekkerny tydens warm somerweer. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

Indiërs doen Donderdag joga tussen twee torings van ʼn hoë residensiële gebou wat onder konstruksie is ter viering van internasionale jogadag in Ahmadabad, Indië. Joga-entoesiaste reg oor die wêreld neem Donderdag deel aan massajoga-geleenthede op dié dag. (Foto: Ajit Solanki, AP)

Die Tootsie Rollers poseer vir die media op die derde dag van die Royal Ascot-perdewedren wat tradisioneel in Ascot, Engeland, bekend staan as Damesdag. (Foto: Tim Ierland, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.