Die wêreld in foto’s – 21 Mei 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Jeep wat aangepas is vir passasiers ry verby ʼn betoger wat ʼn plakkaat ophou tydens ʼn optog teen nóg ’n olieprysstyging buite ʼn vulstasie in die voorstedelike Quezon, noordoos van Manila in die Filippyne. Betogers bevraagteken die byna weeklikse prysstygings van petrol en ander olieprodukte. Hulle beweer ook dat dié stygings pryse op goedere en dienste sal beïnvloed. (Foto: Bullit Marquez, AP)

Vroue geklee in die tradisionele drag van die Sorbe dra ʼn beeld van die maagd Maria tydens ʼn optog in Rosenthal, Duitsland. Volgens tradisie vier die Katoliek-getroue Sorbe, ʼn Slawiese minderheidsgroep naby die Duits-Poolse grens, ʼn opelug nagmaal in dié klein dorpie, oos van Dresden. (Foto: Jens Meyer, AP)

ʼn Moslemvrou lees Maandag die Koran by die Istiqlal-moskee in Djakarta, Indonesië. Tydens Ramadan, die heiligste maand in die Islamitiese kalender, weerhou Moslems hulle van sonop tot sononder van eet, drink, rook en seksuele omgang. (Foto: Tatan Syuflana, AP)

Lech Walesa, die voormalige Poolse president en anti-kommunistiese leier, praat Maandag met die media nadat hy met gestremdes en hul ouers in die parlementsgebou in Warschau, Pole, vergader het om aan hulle ondersteuning te bied op die 34ste dag van hul protes en aandrang op meer staatshulp. (Foto: Czarek Sokolowski, AP)

Sri Lankane soek na herwinbare materiaal wat deur stormgolwe in Colombo uitgespoel is. Swaar reën en weerlig oor dié land het die lewe van minstens vyf mense geëis en meer as 1 000 dakloos gelaat, het owerhede Maandag gesê. (Foto: Eranga Jayawardena, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.