Die wêreld in foto’s – 22 Mei 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

’n Indiese man loop verby rook wat uit ’n woongebied trek. Dit is glo die gevolg van ’n aanval vanaf die Pakistanse kant van die grens in die Jora-plaasgemeenskap in die Ranbir Singh Pura-distrik van Jammu en Kasjmir, Indië. Die grens tussen Indië en Pakistan is byna verlate aangesien talle mense na veiliger gebiede van die onbestendige grensgebied verhuis het. (Foto: Channi Anand, AP)

Thaise pro-demokratiese betogers konfronteer Dinsdag die polisie tydens ’n byeenkoms ter herdenking van die militêre oorname van die regering in Bangkok, Thailand. Polisie in die Thaise hoofstad het Dinsdag ’n optog deur pro-demokratiese aktiviste geblokkeer. Hulle betoog teen vier jaar van militêre heerskappy en eis dat daar vanjaar ’n verkiesing moet plaasvind. (Foto: Sakchai Lalit, AP)

Najib Razak, die voormalige premier van Maleisië, praat met die media voor hy die kommissie teen korrupsie se kantoor in Putrajaya verlaat. Najib is Dinsdag uitgevra oor ’n korrupsieskandaal wat moontlik tot kriminele aanklagte teen hom kan lei. Volgens dié land se nuwe teenbedroghoof is ondersoeke in dié saak tydens Najib se bewind deur intimidasie onderdruk. (Foto: Sadiq Asyraf, AP)

’n Bangladesjer loop Dinsdag met ’n sambreel terwyl ander mense hul waentjies in die reën in Dhaka stoot. Die hewige reënseisoen in Bangladesj begin in Junie. (Foto: A.M. Ahad, AP)

’n Inwoner voer Dinsdag ’n ritueel uit tydens vieringe op die afgeleë Cheung Chau-eiland in Hongkong. Duisende plaaslike inwoners en toeriste het na dié afgeleë eiland gestroom om die fees te vier ten spyte van ’n hittegolf. (Foto: Kin Cheung, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.