Die wêreld in foto’s – 22 November 2019

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Ondersteuners van Evo Morales, Bolivië se voormalige president, kom byeen in La Paz in dié land. Ondersteuners eis dat Morales moet terugkeer as president nadat hy bedank het onder druk van die weermag. Veiligheidsmagte het intussen ingespring om die betogings onder beheer te bring. (Foto: Natacha Pisarenko, AP)

Joe Burns van Australië slaan op die grond neer tydens dié land se krieketwedstryd teen Pakistan in Brisbane, Australië. (Foto: Tertius Pickard, AP)

Swaar rookmis bedek die lug by die historiese Badshahi-moskee in Lahore, Pakistan. Amnestie Internasionaal het in ʼn dringende oproep almal in Lahore gewaarsku dat hul lewens in gevaar is. Swaar rookmis hang oor talle stede in die Punjab-provinsie wat ongelukke op snelweë asook asemhalingsprobleme veroorsaak, en talle inwoners noop om tuis te bly. (Foto: K.M. Chaudary, AP)

Pous Franciskus (middel) saam met sy niggie Ana Rosa Sivori (links) en Thailand se eerste minister, Prayuth Chan-ocha (regs), tydens ʼn verwelkomingsgeleentheid by die regeringshuis in Bangkok, Thailand.

Mense loop verby mure vol graffiti by die Saadoun-tonnel in Bagdad, Irak. Dié tonnel loop onder deur die Tahrir-plein wat ʼn ad hoc-museum vir die rewolusie van Irak geword het. Jong kunstenaars teken beelde en muurskilderye wat die land se verlede uitbeeld en ook van die land waarna hulle strewe. (Foto: Hadi Mizban, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.