Die wêreld in foto’s – 23 Mei 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Betogers verbrand Woensdag ʼn skildery van die Filippynse pres. Rodrigo Duterte in Manila ter viering van die beleg deur militante met Isis-bande van Marawi in die suide van die Filippyne, presies een jaar gelede. Meer as 1 100 mense is dood in geweld wat op dié beleg gevolg het en Duterte het voor ʼn ernstige krisis te staan gekom toe vrese versterk is dat Isis wel ʼn vastrapplek in dié streek het. (Foto: Bullit Marquez, AP)

Rod Stewart en sy vrou, Penny Lancaster, verlaat St. Petrusplein nadat hulle pous Franciskus se weeklikse oudiënsie in die Vatikaan bygewoon het. (Foto: Alessandra Tarantino, AP)

Die silhoeët van ʼn drawwer Woensdag vroegoggend langs die Potomacrivier in Washington. (Foto: J. David Ake, AP)

Mark Zuckerberg, die uitvoerende hoof van Facebook, en Microsoft se uitvoerende hoof, Satya Nadella, gesels ná ʼn gesinsfoto met gaste wat Woensdag die “Tech for Good”-beraad by die Elysée-paleis in Parys, Frankryk, bygewoon het. (Foto: Charles Platiau, AP)

Quim Torra (middel), die nuutverkose Katalaanse streekspresident, daag Woensdag by die parlementsgebou van Katalonië in Barcelona, Spanje, op voor ʼn videokonferensie met die voormalige Katalaanse leier, Carles Puigdemont. ʼn Duitse hof het Dinsdag ʼn versoek van aanklaers verwerp om Puigdemont in hegtenis te neem in afwagting op die besluit of hy wel aan Spanje uitgelewer sal word. (Foto: Manu Fernandez, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.