Die wêreld in foto’s – 24 April 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Betogers hou Dinsdag ʼn optog naby die Amerikaanse ambassade in Seoel, Suid-Korea. Dié optog is om protes aan te teken teen die beplande beraad tussen die Suid-Koreaanse president, Maan Jae-in, en die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un. Dié twee leiers neem Vrydag aan Korea se derde beraad-praatjie sedert 1945 deel. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

Tom Evans praat met verslaggewers buite die Alder Hey Kinderhospitaal in Liverpool, Engeland, waar sy 23 maande oue seuntjie, Alfie, behandel word. Alfie se ouers is in ʼn regsgeding gewikkel rondom hul seun wat deur lewensondersteuningsmasjiene aan die lewe gehou word. Die Europese Hof vir Menseregte het Maandag die aansoek van die Britse ouerpaar verwerp wat hul terminaal siek peuter na Italië wil neem vir behandeling, eerder as om ʼn Britse hospitaal toe te laat om hom van lewensondersteuning te verwyder. (Foto: Peter Byrne, AP)

ʼn Noord-Koreaanse vlag wapper in die wind bo-aan ʼn 160 meter hoë toring in Gijungdong, Noord-Korea. Die vlag word hier vanaf die Taesungdong-vryheidsdorp in die gedemilitariseerde sone in Paju, Suid-Korea, gesien. Die Suid-Koreaanse president Maan Jae-in en die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un vergader Vrydag aan die suidekant van die Panmunjom. (Foto: Lee Jin-man, AP)

Enrique Pena Nieto, die Mexikaanse president (middel voor) en die Nederlandse koning, Willem-Alexander (middel agter) inspekteer ʼn erewag by die koninklike paleis Noordeinde in Den Haag, Nederland. (Foto: Peter Dejong, AP)

Armeense amptenare lê blomme neer by die monument ter nagedagtenis aan die slagoffers van massamoorde deur Ottomaanse Turke. Dié geleentheid is ter herdenking van die 103-jarige gedenking van die volksmoord in Yerevan, Armenië. (Foto: Tigran Mehrabyan, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.