Die wêreld in foto’s – 24 Januarie 2020

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Studente van Indië stap met ʼn nasionale vlag, wat glo meer as 300 m lank is, tydens ʼn saamtrek in Mumbai voor die land se Republiekdag. (Foto: Rafiq Maqbool, AP)

ʼn Betoger sluit aan by ʼn optog in San Juan, Puerto Rico. Die optog handel oor noodhulptoerusting wat tot onlangs onbenut in ʼn pakhuis geberg is te midde van voortdurende aardbewings. (Foto: Carlos Giusti, AP)

ʼn Migrant wat ʼn kind dra, loop weg van die Mexikaanse nasionale wagte wat die deurgang van ʼn groep Sentraal-Amerikaanse migrante naby Tapachula, Mexiko, versper. (Foto: Marco Ugarte, AP)

ʼn Betoger laat ʼn lantern los terwyl die hawe in Marseille in die suide van Frankryk versper word. Betogers het in Parys en oor die hele land opgeruk teen die planne van die Franse president, Emmanuel Macron, om die pensioenstelsel te hersien. (Foto: Daniel Cole, AP)

Fiona, ʼn seekoei afkomstig van die Nyl, eet haar spesiale verjaardagkoek ter viering van haar derde verjaardag by die Cincinnati Zoo & Botanical Garden in die VSA. Die Cincinnati-dieretuin gebruik dié geleentheid om geld in te samel vir die natuurlewe in Australië wat geraak word deur die bosbrande. (Foto: John Minchillo, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.