Die wêreld in foto’s – 24 Julie 2018

Foto’s bied ’n blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ’n slag.

Die groep fietsryers ry gedurende die Tour de France-fietswedren se sestiende ronde – wat oor 218 kilometer strek – met die begin van dié ronde in Carcassonne en die einde in Bagneres-de-Luchon, Frankryk. (Foto: Peter Dejong, AP)

Brandbestryders aan die werk by Kineta naby Athene in Griekeland. Owerhede het ʼn noodtoestand in Wes-en Oos-Attika afgekondig ná drie groot veldbrande in die voorstede en kusoorde naby die Griekse hoofstad. Honderde inwoners is gedwing om hul huise te verlaat, het die Griekse nasionale nuusagentskap AMNA gesê. (Foto: Lefteris Partsalis, Xinhua)

Chanin Vibulrungruang, ’n lid van die sokkerspan wat vroeër vandeesmaand saam met hul afrigter uit ’n oorstroomde grot gered is, laat Dinsdag saam met die res van die span asook die afrigter hul koppe skeer in ’n tradisionele Boeddhistiese seremonie in die Mae Sai-distrik van die Chiang Rai-provinsie in Noord-Thailand. Dié jong sokkerspan en hul afrigter wat uit die grot in Noord-Thailand gered is, neem deel aan die seremonie waar hulle voorberei om hulself aan die Boeddhistiese-geloof te verbind en monnike te word. (Foto: Sakchai Lalit, AP)

Leerders van die Marjory Stoneman Douglas High School in Parkland, Florida, reageer ná hulle bome by die Halswell Quarry-bewaringspark aan die buitewyke van Christchurch, Nieu-Seeland, geplant het. Die 28 leerders wat die massaskietery van 14 Februarie vanjaar by dié Florida-skool oorleef het, is op ’n besoek aan Nieu-Seeland om meer te leer oor die handhawing van jeugbewegings. Nadat hulle Dinsdag die inheemse bome geplant het, het hulle hartroerende herinneringe van hul voormalige klasmaats en onderwysers gedeel in ’n seremonie wat talle in trane gehad het. (Foto: Mark Baker, AP)

Mense geniet Dinsdag die somerweer op die strand van Warnemuende naby Rostock in Duitsland. (Foto: Bernd Wuestneck, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.