Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.
Die voormalige Duitse president, Walter Scheel, is op 24 Augustus 2016 oorlede na ʼn lang siekbed. Hy was 97 jaar oud. Dié foto is in 2009 in Bad Krozingen, in die suide van Duitsland, geneem. Foto: AP Photo /Winfried Rothermel
Migrante uit Afghanistan bad op ʼn snikhete dag in Calais in die noorde van Frankryk. Volgens plaaslike owerhede is daar sowat 6 000 vlugtelinge in die nuwe ‘Jungle camp’, net buite Calais. Hulle hoop om die Engelse kanaal oor te steek na Brittanje. Foto: AP Photo/Michel Spingler
Naasbestaandes in Kiev hou foto’s vas van hul familielede wat as soldate gesterf het in gevegte met die pro-Russiese seperatiste by ʼn Onafhanklikheidsdagoptog. Foto: AP Photo/Efrem Lukatsky
ʼn Gestrande walvis, met sy stert wat oortrek is van eendmossels, rus in die water van Puerto del Buceo in die hartjie van Montevideo in Uruguay. Talle mense het tevergeefs probeer om die walvis te red, maar owerhede glo hy het uit sy eie land toe gekom om te sterf en vra die publiek om hom in vrede te laat. Foto: AP Photo/Matilde Campodonico
Die presidensiële kandidaat vir die Republikeinse party, Donald Trump, loop in die reën saam met Florida se prokureur-generaal, Pam Bondi, by ʼn veldtog in Tampa. Foto: Loren Elliott/Tampa Bay Times via AP
Gimnas, Simone Biles, se reaksie terwyl Houston se burgemeester, Sylvester Turner, 24 Augustus as ‘Simone Biles-dag’ verklaar op die George Bush Intercontinental-lughawe in Houston, Texas. Sy het vier goue medaljes en een brons medalje op die Olimpiese Spele in Rio verower. Foto: Michael Ciaglo/Houston Chronicle via AP
Brasilië se geskorste president, Dilma Rouseff, lag tydens ʼn optog in Brasilia. Brasilië se senaat maak hom reg vir die kishou in die saak, wat daartoe kan lei dat president Rousseff uiteindelik omvergewerp word. Sy word daarvan beskuldig dat sy die fiskale wette van die land oortree het. Foto: AP Photo/Eraldo Peres
As hulle reeds in Frankryk is, maar na Brittanje wil gaan, is hulle nie “vlugtelinge” nie, maar is hulle “migrante”.
‘n Vlugteling vlug slegs tydelik vanaf ‘n onveilige plek tot iewers waar dit veilig is.
‘n Migrant is iemand wat vanaf een veilige plek, na ‘n ander veilige plek gaan of wil gaan.
Dagsê Paul,
Dankie vir jou terugvoer. Die fout het by die teksversorger ingesluip en ons het dit nie opgemerk nie. Ons wysig die berig. Dankie dat jy ons daarop gewys het.
Groetnis
Landi nms Maroela Media