Die wêreld in foto’s – 25 Januarie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Reddingspanne Donderdag aan die werk by die Pioltello Limito-treinstasie buite Milan, Italië, waar ’n trein ontspoor het. Volgens die Italiaanse polisie is minstens twee mense dood en tien beseer toe ’n passasierstrein met honderde passasiers in die noorde van die land ontspoor het. (Foto: Flavio Lo Scalzo, AP)

Voetgangers Donderdag op ’n snerpend koue oggend in Omsk, Rusland, waar die kwik tot -30 °C gedaal het. (Foto: Dmitry Feoktistov, AP)

Bill Morneau, Kanadese minister van finansies, neem deel aan ’n paneelbespreking by die vierde jaarlikse vergadering van die Wêreld Ekonomiese Forum, (WEF), in Davos, Switserland. Etlike entrepreneurs, wetenskaplikes asook korporatiewe en politieke leiers woon nog tot 26 Januarie dié vergadering by. (Foto: Laurent Gillieron, AP)

’n Inwoner stap Donderdag oor ’n voetbrug in ’n oorstroomde straat in Villeneuve-Saint-Georges buite Parys, Frankryk, waar die Yerres-rivier sy oewers oorstroom het. Verskeie riviere reg oor Frankryk is tans in vloed ná swaar neerslae. (Foto: Thibault Camus, AP)

’n Man troos Donderdag ’n familielid van een van die twee slagoffers wat Woensdagaand dood is in ’n vuurpyl-aanval, gedurende die begrafnis-optog in Kilis, Turkye, naby die Siriese grens. In dié aanval, die jongste in ’n reeks aanvalle op dié grensdorp, is minstens 13 mense gewond. (Foto: Lefteris Pitarakis, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.