Die wêreld in foto’s – 25 Junie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Man neem Maandag ʼn foto van graffiti, vermoedelik deur die straatkunstenaar Banksy in Parys. Volgens die kunswebwerf Artistikrezo is sewe kunswerke deur dié graffiti-kunstenaar onlangs ontdek, waaronder een naby ʼn voormalige sentrum vir migrante noord van die stad. (Foto: Thibault Camus, AP)

Prins William van Brittanje en kroonprins Hoessein van Jordanië poseer vir ʼn foto saam met ʼn groep jongmense van Makani-sentrum, ʼn gratis onderwys-en-ondersteuningsprogram vir Siriese vlugtelingkinders en plaaslike Jordaniese kinders op die Jerash- argeologiese terrein in Jerash, Noord-Jordanië. (Foto: Raad al-Adayleh, AP)

ʼn Lid van die Koningin se Wag van die Koninklike Kanadese Lugmag neem haar posisie in langs ʼn lid van die uitgaande wag van Brittanje se Ierse Wag-regiment, aangesien die Koninklike Kanadese Lugmag vir die eerste keer in sy geskiedenis aan dié seremonie by die Buckingham-paleis in Londen deelneem. Ongeveer 120 lede van die Kanadese lugmag is ontplooi om Britse pligte vir Brittanje se koningin Elizabeth II tot middel Julie te onderneem. (Foto: Matt Dunham, AP)

Calvay, die vier weke oue makaakapie, verken sy blyplek by die Blair Drummond-safaripark naby Stirling, Skotland. Calvay is vernoem na ʼn eiland in die Hebrides. (Foto: Andrew Milligan, AP)

ʼn Dag ná die verkiesing sit ʼn vrou by die aandelebeurs Borsa Istanboel (BIST) kort ná sy opening Maandag in Istanboel. Die president van Turkye, Recep Tayyip Erdogan, wat die afgelope 15 jaar die Turkse politiek oorheers, is die wenner van Sondag se verkiesing en gereed om sy bewind af te skop met nuwe magte ná sy oorwinning. (Foto: Emrah Gurel, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.