Die wêreld in foto’s – 27 Februarie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Kate, die Hertogin van Cambridge, Dinsdag tydens haar besoek aan die Royal College of Obstetricians and Gynaecologists in Londen, Engeland. (Foto: Peter Nicholls, AP)

ʼn Ondersteuner van Park Geun-hye, die voormalige Suid-Koreaanse president, huil voor die Sentraal-distrikshof in Seoul, Suid-Korea, tydens ʼn optog ter ondersteuning van Geun-hye se vrylating. Aanklaers het Dinsdag versoek dat Geun-hye tot 30 jaar tronkstraf gevonnis word op aanklagte van omkopery, magsmisbruik en ander misdade in ʼn korrupsie-saak wat dié land se eerste vroulike leier en voormalige konserwatiewe ikoon tot ʼn val gebring het. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

ʼn Indiese Khasi-vrou dra haar dogtertjie nadat sy gedurende die Meghalaya-staat se verkiesing in Nongpoh, Indië, gestem het. Die verkiesings het Dinsdag vir twee van Indië se noordoostelike state geopen. (Foto: Anupam Nath, AP)

ʼn Man loop oor ʼn brug in ʼn mistige Svisloch, 30 km oos van Minsk in Belarus. Temperature in Belarus het tot -20˚C gedaal. (Foto: Sergei Grits, AP)

Die kinders van asielsoekers, meestal uit Eritrea en Soedan, dra Dinsdag kostuums tydens die Purim-feesparade in Tel Aviv, Israel. Dié Joodse vakansie herdenk die Jode se verlossing van volksmoord in antieke Persië, soos weergegee in die Bybelboek Ester, wat in sinagoges gelees word. Ander gebruike sluit in die uitdeel van kospakkies, die aantrek van maskers en kostuums, ʼn feesete en openbare feesvieringe. (Foto: Ariel Schalit, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.