Die wêreld in foto’s – 27 Februarie 2020

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

ʼn Man aan’t visvang by ʼn stil strand in Fujisawa, Japan. Volgens plaaslike ondernemings het die aantal besoekers in die omgewing aansienlik gedaal sedert die Covid-19-uitbreking. (Foto: Jae C Hong, AP)

Wagte met gesigsmaskers patrolleer die gebied buite die nasionale paleis in Kuala Lumpur, Maleisië. Die koning van Maleisië het die voormalige premier, Mahathir Mohamad, na die paleis ontbied, wat gerugte aangevuur het dat Mohamad weer as premier aangestel gaan word ná sy skielike bedanking en die ineenstorting van sy regerende koalisie vandeesweek. (Foto: Vincent Thian, AP)

Die goue sambreel word tydens die inwyding van die Htilominlo-pagode in die antieke stad Bagan, Sentraal-Mianmar, opgehys om boaan die pagode geplaas te word. (Foto: Aung Shine Oo, AP)

Sebastian Vettel, ʼn Duitse Ferrari-bestuurder, toets sy motor tydens die Formule Een-voorseisoen-toetssessie op die Barcelona Catalunya-renbaan in Montmelo, Spanje. (Foto: Joan Monfort, AP)

Pakistanse vegvliegtuie voer ʼn lugvertoning uit ter viering van die eerste herdenking van Operation Swift Retort in Karatsji, Pakistan. Dié geleentheid herdenk die dag toe Pakistan ʼn Indiese Mig-21-vegvliegtuig afgeskiet en die loods gevange geneem het tydens struwelinge tussen dié twee lugmagte. (Foto: Fareed Khan, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae