Die wêreld in foto’s – 27 Junie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Getroude Hindoe-Indiërvroue bind Woensdag katoendraadjies om ʼn baniaanboom terwyl hulle rituele by die Vat Savitri-fees in Ahmadabad, Indië, uitvoer. Vat Savitri word op ʼn volmaandag gevier waartydens vroue bid vir ʼn lang lewe vir hul mans. (Foto: Ajit Solanki, AP)

Mense stap verby die Brandenburg-hek wat in ’n winkelvenster in Berlyn, Duitsland, weerkaats word. (Foto: Miriam Karout, AP)

ʼn Man dra ʼn hemp ter ondersteuning van Meksiko voor die wedstryd tussen die Meksikaanse span en Swede tydens die 2018-Wêreldbekersokkertoernooi in die Jekaterinburg-arena in Jekaterinburg, Rusland. (Foto: Gregorio Borgia, AP)

ʼn Apie geniet ʼn bevrore lekkerny met neute en bessies by die Londense dieretuin in Londen. ʼn Hittegolf het vandeesweek dele van Brittanje getref met ongewone temperature tot 30 grade Celsius. (Foto: Kirsty Wigglesworth, AP)

Kelners neem ʼn welkome blaaskans om te rook naby leeubeelde van klip in Beijing, China. (Foto: Ng Han Guan, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.