Die wêreld in foto’s – 27 Maart 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Die ingang van ʼn gevangenis in Neumuenster, Noord-Duitsland, waar die vlugteling Carles Puigdemont, vurige separatis en voormalige leier van Katalonië, vermoedelik aangehou word. Hy is Sondag deur die Duitse polisie met ʼn internasionale lasbrief in hegtenis geneem terwyl hy besig was om dié land vanuit Denemarke binne te kom. (Foto: Frank Molter, AP)

Betogers bid by ʼn nagebootste trein met ʼn foto van die Filippynse president, Rodrigo Duterte, terwyl hulle die lyding van Jesus Christus Dinsdag tydens ʼn saamtrek op die heilige week in Manila, Filippyne, naboots. Dié groep het die betoging gebruik om die lot van die stedelike armes onder Duterte se regering se aandag te bring. (Foto: Aaron Favila, AP)

Omstanders kyk toe terwyl ʼn konvooi motors deur Chang’anlaan, ʼn belangrike oos-wes-deurgang in Beijing, ry. Bespiegelinge oor ʼn besoek deur die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, of ʼn ander hoëvlak-Pyongyang-amptenaar doen Dinsdag die ronde te midde van praatjies oor voorbereidings vir ʼn ontmoeting tussen die kluisenaaragtige Noord-Koreaanse leier en pres. Donald Trump. (Foto: Mark Schiefelbein, AP)

Taxi-bestuurders versper paaie en verbrand rommel tydens ʼn betoging teen algemene taxi-regulasies en die Uber-maatskappy in Brussel. (Foto: Sylvain Plazy, AP)

ʼn Bord wat “Die Ambassade van die Russiese Federasie” lees, word by die ingang van die Russiese ambassade in Berlyn, Duitsland, vertoon. Duitsland gaan vier Russiese diplomate skors in reaksie op die onlangse aanval op ʼn voormalige Russiese militêre intelligensiebeampte en sy dogter in Brittanje. (Foto: Markus Schreiber, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.